
Een van die studente wat Maandag op die Tuks-kampus met ‘n onbekende voorwerp gegooi is. Foto: Facebook
AfriForum het Vrydag ʼn aanlyn-veldtog van stapel gestuur vir ouers van studente aan die Universiteit van Pretoria (UP) en die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat sterk standpunt teen die ontwrigting van die akademiese programme op die twee kampusse wil inneem.
Dit volg nadat verskeie ouers die burgerregte-organisasie genader het met kommer oor die invloed van die ontwrigting en sluiting van die kampusse op hul kinders se studie en toekoms.
Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, kan ouers aanlyn op AfriForum se webwerf ʼn brief onderteken wat hul kommer verwoord en wat deur AfriForum aan die besture van die onderskeie universiteite deurgegee sal word.
“In die brief eis ouers dat die universiteitsbestuur alle moontlike stappe doen om te sorg dat stabiliteit so gou moontlik op die kampusse herstel word en dat die normale akademiese program hervat word,” het Bailey gesê. “Hulle eis verder dat die veiligheid van hul kinders op die kampusse en in studentebehuising gewaarborg word.”
Bailey het gesê indien die klastyd wat weens die studenteprotes verlore geraak het, nie op ’n billike wyse ingehaal word nie, gee die ouers verder aan AfriForum ʼn mandaat om namens hulle regsadvies in te win – sonder enige koste-implikasie vir die ouers – oor die moontlikheid van ʼn klas-aksie om die studiegeld wat vergeefs betaal is van die verantwoordelikes terug te eis.
Bailey noem dat AfriForum en die ouers met dank kennis dra van universiteitsbesture se verklarings dat strenger beheer op kampusse toegepas gaan word.
“Ons het egter nou al meer as ʼn jaar lank met die aanhoudende ontwrigting van akademiese programme deur klein groepies anargiste op verskeie kampusse deur die land te kampe. Ouers se vertroue is geskaad en hulle wil hul frustrasie aan die besture oordra. AfriForum staan hulle in dié verband by, veral by die twee kampusse wat steeds gesluit is. Dit sal tyd neem om weer die verhoudings te herstel.”
Ouers sonder toegang tot die internet kan hul steun toon deur ʼn SMS met hul naam en die naam van die universiteit waar hul kinders studeer na 45268 te stuur. SMS’e kos R1 elk.