Die Lavender Hill-vrou staan tereg op aanklagte van ontvoering, bedrog en oortreding van die Kinderwet. Die staat beweer sy het op 30 April 1997 Zephany langs haar ma se bed in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad ontvoer.
Ao. Petro Coetzee het Donderdag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê dat sy ʼn jaar gelede by die saak betrokke geraak het toe Mike Barkhuizen, ʼn speurder vir die Valke, haar gevra het om saam met hom die beskuldigde se huis te besoek. Coetzee het gesê hulle het by die kleinhoewe in Lavender Hill opgedaag waar hulle die beskuldigde se suster ontmoet het wat in ʼn woonstel agter op die kleinhoewe gewoon het.
Hulle het die rede vir hul besoek verduidelik en haar ondervra. Die beskuldigde se suster het aan die polisiebeamptes gesê dat sy en die beskuldigde terselfdertyd swanger was in 1996 en 1997. Volgens Coetzee het die suster in Augustus 1997 aan haar baba lewe geskenk en sy het hulle ʼn foto van Zephany as kleuter saam met haar niggies en nefies gewys.
Die polisie het op die foto beslag gelê en dit in ʼn forensiese sak verseël.
Coetzee het gesê die suster het aan hulle vertel dat sy nooit destyds die beskuldigde in die kraamsaal van die hospitaal besoek het nie en dat die beskuldigde ginekologiese probleme gehad het waarvoor sy destyds behandel is. Sy het ook die polisie ingelig dat die beskuldigde voorheen ʼn miskraam gehad het en daarna wel lewe geskenk het aan ʼn babadogtertjie, met die naam Yolanda, wat op die ouderdom van twee maande dood is.
Coetzee het gesê toe die beskuldigde by die huis opdaag, was sy kalm. Sy het aan die polisie gesê dat Zephany haar kind is.
Barkhuizen het die beskuldigde ondervra en sy het gesê dat sy die baba by die Retreat mobiele swangerskapkliniek in die lewe gebring het. Hy het toe rekords van die kliniek te voorskyn gebring en aan haar gewys dat haar naam nêrens daarop verskyn nie. Die vrou het egter volgehou dat Zephany haar kind is en by Retreat gebore is.
Toe Barkhuizen haar vra hoekom sy die geboorte eers ses jaar later in Malmesbury geregistreer het, het sy gesê haar broer is dieselfde jaar dood en “dit is miskien hoekom sy dit toe eers gedoen het”. Coetzee het gesê toe Barkhuizen haar inlig dat die kind nie daardie nag by haar huis sal bly nie, was dit die eerste keer dat die beskuldigde emosie getoon het.
Sy het glo gehuil en gevra of Zephany by haar kan bly “tot alles verby is”. Die beskuldigde is hospitaal toe geneem om DNS-toetse te laat doen en sy het gesê sy het niks om weg te steek nie.
Vroeër die dag het Mary Lewis, ʼn 85-jarige vrou wat in 1997 naby die beskuldigde gebly het, ontken dat sy die beskuldigde op 30 April 1997 by die Retreat-kliniek gaan haal het soos sy beweer het.
Die saak sal Maandag hervat word wanneer die verdediging na verwagting vier getuies, onder wie die beskuldigde, sal roep om te getuig.
Lees alle vorige berigte oor die Zephany Nurse-saak op Maroela Media.