Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

[Video] NWU-dosent hardhandig deur ‘student’ behandel

$
0
0
'n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

‘n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

Die bestuur van die Noordwes-Universiteit (NWU) het gesê hy is bewus van ʼn voorval waarin ʼn jong man glo ʼn vrouedosent op die Mafikeng-kampus hardhandig behandel het.

ʼn Video van die voorval word wyd op sosiale media gedeel en wys hoe die dosent op haar podium in die lokaal staan, omring deur beweerde betogende studente wat haar klas probeer ontwrig. Sy vra egter vir die klas of hulle eerder wil studeer, en hulle dui aan dat hulle wil. Een van die betogers stoot haar dan met sy hande op haar bors uit die klas.

Koos Degenaar, kampuswoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media gesê die voorval het op 15 Februarie plaasgevind toe ʼn groep betogers, wat glo deel van die EFF studente-afvaardiging is, klasse ontwrig en kampuseiendom gevandaliseer het. Lees meer hier.

“Die tugverhoor van Benz Mabengwane, voorsitter van die institusionele verteenwoordigende studenteraad, het op die dag plaasgevind en die groep het uit protes daarteen betoog,” het Degenaar gesê. Mabengwane is dissiplinêr verhoor nadat hy vroeër vanjaar ʼn hofinterdik verontagsaam het wat hom verbied het om die registrasieproses by die universiteit te ontwrig.

Degenaar het gesê die dosent is gelukkig nie tydens die voorval beseer nie. “Ons is besig om die voorval te ondersoek en sal die nodige stappe neem wat daaruit spruit. Die moontlikheid bestaan egter dat van die betogers nie van dié kampus is nie, maar van ʼn ander universiteit af hierheen aangery is.”

AfriForum Jeug het Woensdag geëis dat stappe geneem word teen die betogende studente wat die dosent “aangerand” het nadat hulle die beeldmateriaal bekom het.

“Dit is duidelik uit die reaksie van die studente in die klas dat hulle eerder wou studeer en nie die optrede van die betogende studente goedkeur nie. ’n Mens kan die ontevredenheid onder studente hoor toe die betoger die dosent op haar bors begin stoot,” het Janli Sonntag, AfriForum Jeug se kampuskoördineerder, gesê.

Sy het gesê die NWU het ’n verantwoordelikheid teenoor sowel studente as dosente om hul veiligheid en reg op onderrig te verseker. AfriForum Jeug is van mening dat die meerderheid studente nie die betogende studente ondersteun nie.

“Die universiteitsbestuur kan nie toelaat dat ’n klein groep radikale studente die res van die kampus gyselaar hou nie. Daar moet teen anargiste opgetree word wat ander se regte ontneem en hul veiligheid in gedrang bring,” het Sonntag bygevoeg.

“Ons het ná verlede Maandag se voorval veiligheid op die kampus aansienlik verskerp en monitor deurlopend die situasie,” het Degenaar gesê.

Degenaar het ook gesê Mabengwane se tugverhoor is gefinaliseer ten spyte van die betogings en die uitslag van die verhoor sal binnekort bekendgemaak word.

 


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621