Gordhan het in sy begrotingsrede ’n vermindering van R5,65 miljard in persoonlike inkomstebelasting vir individue aangekondig, wat volgens hom “gedeeltelik vergoed vir inflasie en hoofsaaklik gefokus is op laer- en middelinkomstegroepe”.

Volgens Paul Joubert, senior ekonomiese navorser aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is Gordhan se aankondiging van belastingverligting, soos in vorige jare, erg misleidend.
“Om die kastige ‘verligting’ te ontvang, moet jou inkomste konstant bly teenoor die vorige jaar. Indien jou inkomste konstant bly, beteken dit eintlik dat jy armer word, omdat inflasie jou koopkrag verminder. Iemand wat in die 2015/16-belastingjaar belasbare inkomste van R300 000 gehad het, sou 17% (R50 986) daarvan aan inkomstebelasting moes afstaan. Indien die persoon ʼn verhoging van 6% in sy inkomste kry, sal hy R318 000 verdien, waarop hy in die 2016/17-belastingjaar R55 360 inkomstebelasting sal moet betaal – dit is 17,4% van sy inkomste. Dis nie moeilik om te sien dat 17,4% hoër is as 17% nie. Jy het dus ʼn keuse tussen om jouself deur inflasie te laat verarm, of om inflasie die hoof te bied, maar dan deur hoër belasting verarm te word.”
Die brandstofheffing sal intussen vanaf 6 April met 30c per liter styg. Dit sal die algemene brandstofheffing na R2,85 per liter petrol en R2,70 per liter diesel verhoog.
Gordhan het ook nog slegte nuus gehad vir sommige verbruikers met die aankondiging van belastingverhogings op tabak en alkohol:

Die regering het intussen ook voorgestel dat daar vanaf 1 April 2017 ’n belasting op suikerversoete drankies gehef word om die oormatige inname van suiker te verminder. “Vetsug wek wêreldwyd kommer, maar Suid-Afrika se vetsug-posisie is tans die ongewensste in Afrika suid van die Sahara. Dit het ’n groter risiko vir hartsiektes, diabetes en kanker tot gevolg.”