Prof. Cheryl de la Rey, visekanselier en rektor van die universiteit, het gesê die bestuur is steeds besig om met studenteleiers en ander rolspelers te vergader om die kwessies wat tot die afgelope paar dae se onluste gelei het, te bespreek. “Ter wille van die veiligheid van al die lede van die universiteit en om te verseker dat akademiese bedrywighede sonder verdere onderbreking kan voortgaan, moet ons verseker dat genoegsame en effektiewe veiligheidsmaatreëls bestaan voordat ons die kampusse heropen,” het sy gesê.
Die universiteit het aanvanklik net sy Hatfield- en Groenkloof-kampus gesluit, maar het later aangekondig dat lesings op die Mamelodi-kampus ook opgeskort is aangesien die busvervoer na die kampus ontwrig is.
“Alle lesings, toetse en tutoriale wat hierdie week moes plaasvind, sal herskeduleer word. Ons lig alle studente en personeel in dat wanneer die kampusse heropen geen ontwrigtende en onwettige gedrag geduld sal word nie. Ons het ʼn hofinterdik bekom wat geweld van enige aard op ons kampusse verbied en dit sal streng toegepas word met behulp van die polisie,” het De la Rey gesê.
“Ons keur nie enige geweld, intimidasie, aanhitsing of haatspraak deur enige party goed nie. Ons is besig om die universiteit se dissiplinêre prosesse te implementeer en sal enige voorvalle van gewelddadige en onwettige gedrag by die polisie aanmeld vir moontlike vervolging.”