“Die wetsontwerp op onteiening is een stap nader om as een van Suid-Afrika se gevaarlikste wette gepromulgeer te word nadat die Nasionale Vergadering dit gister met 202 stemme teenoor 88 goedgekeur het.” Dit is die mening van die burgerregte-organisasie AfriSake wat reeds sy regspan opdrag gegee om dié wet in die konstitusionele hof te gaan betwis sodra dit gepromulgeer word.
Volgens Stefan Pieterse, AfriSake se woordvoerder, sal die regering die proses nou so vinnig moontlik versnel om die wet goedgekeur te kry. AfriSake is van mening dat dit met die oog op die komende munisipale verkiesing gedoen word om stemme en steun vir die regerende party te verseker.
Die wetsontwerp bepaal onder meer dat die regering enige bate kan onteien as dit in openbare doel of openbare belang geskied. Aandele, intellektuele eiendom en regte verbonde aan eiendom kan dus hiermee onteien word. Daar word ook weggedoen met die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper wat bloot as een van die faktore om vergoeding te bepaal in ag geneem word.
“Met hierdie wetgewing kan die regering besluit wat jou eiendom werd is. As jy dit wil betwis, sal jy op eie onkoste moet hof toe – wat jou ’n aardige bedrag uit die sak kan jaag. Dit kan tog onmoontlik versoenbaar wees met die art. 25 van die grondwet,” het Pieterse gesê.
Lees meer oor die Grondonteieningswetsontwerp op Maroela Media.