Die kampusse van die Universiteit van die Vrystaat (UV) sal vir die res van die week gesluit wees ná die betogings wat vroeër die week die instansie tot ʼn stilstand gebring het.
Die UV het Woensdag in ʼn verklaring gesê hoewel die situasie op die kampusse Dinsdag deur die nag en Woensdagoggend kalm was, sal akademiese en administratiewe aktiwiteite eers Maandag hervat word. “Die universiteitbestuur sal Donderdag en Vrydag gebruik om die kampus voor te berei vir lesings en te probeer om die finale ooreenkomste met die betogende partye te finaliseer,” het die universiteit in ʼn verklaring gesê.
Gewelddadige betogings het Maandag en Dinsdag op die kampus voorgekom met betogers wat klippe gegooi het, standbeelde en geboue beskadig het en vullisdromme omgegooi het. Die polisie se openbare-orde-eenheid moes ontbied word om die betogings onder beheer te bring en hulle was Woensdag steeds op die kampus indien die betogings weer sou opvlam.
Prof. Jonathan Jansen, rektor van die UV, het Dinsdag tydens ʼn mediakonferensie gesê hy is teleurgesteld dat sommige werkers en “ʼn klein groepie gelei deur die SR-president” besluit het om te betoog aangesien die universiteit al sedert verlede jaar besig is met onderhandelinge om aan die twee groepe se eise te voldoen.
“Ons is almal baie bewus van die nasionale krisis op universiteitskampusse en die onstabiliteit wat tans heers. Ons is ook bewus van die feit dat verskeie politieke formasies veg vir ʼn posisie in hierdie onrus in ʼn belangrike verkiesingsjaar. Deel van die probleem om aan die onderskeie eise te voldoen, is dat dit uit verskillende politieke oorde kom en kort-kort verander,” het Jansen gesê.
“ʼn Mens kan nie ʼn eeu oue universiteit en sy gemeenskap oornag verander nie. Ons het 32 000 studente op die kampus. Die oorgrote meerderheid is ordentlik en wil brûe bou. Ons het soveel vordering die afgelope paar jaar gemaak, maar dié gebeure [Maandagaand] wys ons het nog ʼn lang pad om te stap.”