Celeste was die eerste getuie in die saak teen ʼn 50-jarige vrou van Lavender Hill wat daarvan beskuldig word dat sy Zephany op 30 April 1997 uit die Groote Schuur-hospitaal ontvoer het. Zephany is op 28 April 1997 met ʼn keisersnee in die lewe gebring.
Celeste het aan die hof gesê sy was met morfien verdoof en dat sy in pyn was ná die noodoperasie. Sy het ʼn vrou sien sit by die ingang van die algemene saal waarin sy gelê het. Celeste het gedink die vrou is ʼn verpleegster en het om dié rede ja gesê toe die vrou gevra het om die baba op te tel toe sy begin huil het.
Omstreeks 16:00 die middag het ʼn verpleegster haar wakker gemaak en gevra waar die baba is. “Ek het gesê: ‘Wat bedoel jy waar is die baba?’” Celeste het aan die hof verduidelik hoe sy en verpleegpersoneel hierna op elke vloer van die hospitaal na die baba gesoek het maar sonder sukses. Die polisie is ontbied en Celeste is ondervra.
Op ʼn vraag van die staatsaanklaer oor wat haar kind se naam is, het Celeste gesê “Zephany Joy Nurse” voordat sy in trane uitgebars het. Regterpresident John Hlophe het die saak kortliks verdaag. Celeste het nadat die verrigtinge hervat is aan die hof gesê sy het vir niemand toestemming gegee om die baba te vat nie.
Morne Nurse, Zephany se biologiese pa, het volgende getuig en aan die hof gesê sy tweede dogter het in 2015 met gr. 8 begin by dieselfde skool as waar Zephany skoolgegaan het. Zephany, wat ʼn ander naam gebruik het, was in matriek. Volgens Morne het die jonger dogter gesê daar is ʼn meisie by die skool wat presies soos sy lyk.
Morne het gereël om Zephany te ontmoet en het haar en sy jonger dogter na ʼn McDonalds geneem waar hy haar uitgevra het oor haar lewe. “Sy het vir my gesê sy is op 30 April 1997 gebore, op die dag wat my dogter ontvoer is.”
Volgens Morne het Zephany gesê sy het al baie gewonder hoekom sy nie soos haar ouers lyk nie. Morne het ná die afspraak op Zephany se Facebook-profiel gaan rondsnuffel en verder ondersoek ingestel. Hy is hierna na supt. Mark Barkhuizen van die Valke. Morne het getuig dat hy ook kontak gemaak het met Shireen Piet wat op die dag van die ontvoering ook in die spesifieke hospitaalsaal was.
Morne het vroeër getuig hoe hy op 30 April 1997 omstreeks 16:15 ʼn oproep ontvang het en meegedeel is dat sy dogter vermis word. Hy het omstreeks 17:00 by die hospitaal opgedaag waar hy gesien het sy vrou word deur polisiebeamptes ondervra. “Ek het in die fetusposisie gaan lê en my hart uitgehuil. Ek kon net nie glo wat besig was om te gebeur nie.”
Die saak gaan voort.
Lees alle vorige berigte oor die Zephany Nurse-saak op Maroela Media.