ʼn Man is Maandagaand geskiet toe gewapende rowers op ʼn winkelsentrum in Centurion toegesak het.
Kapt. Agnes Huma, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat vyf verdagtes omstreeks 18:30 ʼn juwelierswinkel in die Mall@Reds-winkelsentrum beroof het. “Die eienaar van die winkel is in sy voet geskiet,” het sy gesê.
“Sakeroof word ondersoek, maar niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.” Huma kon nie onmiddellik die waarde van die juwele wat gesteel is, bevestig nie.
Hoewel die polisie nie die naam van die winkel wou bevestig nie, het sosialemedia-gebruikers die winkel as Heide-Marie Meier Jewellers geëien.