Sers. Asnath Melatsi, woordvoerder van die polisie, het gesê betogers het gewelddadig geraak, klippe na joernaliste en voertuie gegooi en polisievoertuie beskadig. Die polisie moes uiteindelik rubberkoeëls afvuur om die groep betogers uitmekaar te jaag.
“Altesaam 27 van die studente is in hegtenis geneem vir openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging. Hulle sal Maandag in die Pretoria-landdroshof verskyn,” het Melatsi gesê. Sy kon nie onmiddellik gerugte bevestig dat vier van die studente wat in hegtenis geneem is, lede van die studenteraad is nie.
“Tot dusver is geen beserings by die polisie aangemeld nie, maar studente wat beseer is, word aangemoedig om dit aan te meld.”
Die UP het Vrydag sy Hatfield- en Groenkloofkampusse gesluit nadat dreigemente ontvang is dat akademiese aktiwiteite ontwrig sal word, nadat EFF-lede Donderdag oproerig geraak het tydens ʼn openbare vergadering om die universiteit se taalbeleid te bespreek en lede van AfriForum Jeug na bewering aangerand is.
Die voorgestelde wysigings in die universiteit se taalbeleid sluit onder meer in dat Engels die primêre onderrigtaal in alle klasse sal wees en dat Afrikaans en Sepedi slegs gebruik sal word om addisionele ondersteuning vir studente tydens praktiese klasse en besprekings te bied.


