Volgens die hofbevel mag die 16 respondente tot 26 Februarie nie enige van die universiteit se persele betree of daar woon nie. Die respondente mag egter na die koshuise terugkeer indien hulle amptelik toestemming het om daar te woon.
Die respondente mag ook nie deelneem aan enige aksies wat die lewering van dienste of besluitnemingsprosesse by die universiteit kan beïnvloed nie. Dit sluit onder meer in die oprigting van enige ongemagtigde strukture, die vernietiging of ontsiering van enige van die universiteit se eiendom of die aanhitsing van geweld.
Die respondente is Sanchia Davids, Kirsten Whitfield, Mogezi Mayepi, Neo Reiloe Mancapa, De Waal Hugo, Itumeleng Nkululeko Molefe (seun van Eskom se Brian Molefe), Dumisani Ncubani, Athabile Nonxuba, Alex Hotz, Pam Dhlamini, Masixole Mlandu, Slovo Magida, Zola Shokane, Brian Kamanzi, Ru Slayen en Chumani Maxwele.
Chaos het Dinsdagaand by die universiteit uitgebreek toe betogende studente op ʼn gewelddadige plundertog gegaan en polisiebeamptes skokgranate afgevuur het. Die betogende studente vroeg Dinsdagaand skilderye en ander kunswerke uit die Smuts, Fuller en Jameson-koshuise verwyder aan die brand gesteek. Die studente het ook asblikke, ʼn bakkie en bus van die Jammie-pendeldiens aan die brand gesteek. Nog ʼn bus is met klippe bestook, terwyl verskeie brande ook regoor die kampus gestig is.
IOL berig intussen dat Molefe en sewe ander studente Dinsdag in die Wynberg-landdroshof verskyn het op aanklag van kwaadwillige saakbeskadiging en dat hulle op borgtog van tussen R800 en R1000 vrygelaat is. Hulle moet weer op 30 Maart in die hof verskyn.