“Wie trek Zuma se toutjies?” So lui die opskrif van ’n brief van Armand Cloete van Bloemfontein gister op Maroela Media. Armand is ’n omroeper van Radio Rosestad, en het gister ook ingestaan vir die aanbied van die program Brandpunt op Radio Rosestad waarin hy die aangeleentheid ook onder die loep geneem het.
Hy reageer op berigte dat pres. Jacob Zuma in die jongste verlede “bygestaan” word deur die ANC se integriteitskomitee om die land te regeer, en die name wat genoem word is onder andere Frene Ginwala, Mendi Msimang en Andrew Mlangeni.
Maroela het in die verlede telkemale na die moontlikheid verwys dat die ANC dalk ’n statutêre staatsgreep teen Zuma sou uitvoer. Losweg sou dit kon beteken dat Zuma de facto ’n soort seremoniële president word, en dat die werklike presidensiële take deur iemand anders verrig sou word. Hoewel Cyril Ramaphosa die adjunk-president is, is dit nie so seker hy kry hierdie taak nie, en het dit by tye eerder gelyk of Jeff Radebe, minister in die presidensie, as de facto-premier optree.
Daar was byvoorbeeld die geleentheid toe Zuma weens siekte / uitputting effektief onttrek is. In die omstandighede destyds het dit gelyk na ’n noodplan om ’n sneeustorting van beeldskade wat Zuma aangerig het, te stuit en dinge te “stabiliseer”. Daar is in talle kringe gewonder of Zuma weer in volle beheer sou kom.
Nog ’n groot waterskeidingsoomblik was toe Zuma einde verlede jaar die Nene-debakel aangevang het wat die land honderde miljarde rand se skade berokken het. In byna ’n ommesientjie het Zuma ’n bollemakiesie gemaak en die uitgestote Pravin Gordhan weer minister van finansies gemaak. Daar was talle aanduidings dat Gordhan se terugkeer met ’n baie sterk mandaat geskied het wat Zuma se aandeel tot die land se fiskus en ekonomiese sake bykans tot nul reduseer. Waarnemers meen die ekonomiese deel van die staatsrede, wat die leeueaandeel van die staatsrede uitgemaak het, Gordhan en sy adviseurs se uitsluitlike werk was. Maar die berigte oor Gordhan se posisie is teenstrydig. Aan die een kant het Suid-Afrika versoek dat Gordhan, eerder as Zuma, aan ’n TV-debat in Davos deelneem (wat geweier is), maar aan die ander kant lyk dit of die kommissaris van die Inkomstediens sy agterent ongestraf blink aan sy minister, Gordhan, kan afvee.
Zuma self het die toespraak baie meganies, en volgens sommige berigte, selfs zombie-agtig gelees. Sy hart was klaarblyklik nie daarin nie.
Die konsep van ’n statutêre staatsgreep is nie so seldsaam as wat dit op die oppervlak lyk nie. Weens grondwetlike vereistes in baie lande kan so iets nie werklik openlik geskied nie en vind dit gewoonlik taamlik ongemerk plaas. Voorts is so ’n stap dikwels deur omstandighede genoodsaak en word dit stilswyend as goeie ding aanvaar.
Die onduidelikhede oor of Zuma nou ’n marionet is of nie, is dalk daaraan te wyte dat ’n mens verkeerdelik aanvaar dat die poppemeesters agter die skerm die land in ’n tegnokratiese koers sal stuur, eerder as ʼn populistiese koers. In die praktyk is daar geen waarborg dat die ANC van populisme sal afwyk nie, en in die verlede is getoon dat daar met die uitsonderings van ministers van finansies, bitter min aptyt vir tegnokrasie is. En self die ministers van finansies is beperk deur die afsonderlike bestaan van ministeries vir ekonomiese sake en handel en nywerheid.
Die manier waarop FW de Klerk die leisels by ’n skynbaar onwillige PW Botha ná sy beroerte oorgeneem het, word soms as voorbeeld van ’n statutêre staatsgreep beskryf. Nadat pres. Wladimir Poetin van Rusland sy tweede en laaste termyn as president voltooi het, is hy deur die eerste minister as “instaan-president” opgevolg.
Poetin het die eerste minister geword maar die de facto-regeringshoof geword. Nadat die nuwe president, Dmitri Medvedev, een termyn gedien het, het Poetin weer as president met twee termyne oop voor hom, teruggekeer. Die mag het bloot saam met hom verhuis.
Wat is agter die skerms aan die gang dat dit kort-kort lyk of Zuma van sy magte gestroop word, om net daarna nie net met skynbare onaantasbaarheid die septer te kom swaai nie, maar kort voor lank weer sy voet kniediep daarin te sit?
Is daar ’n wipplankryery aan die gang waar Zuma oor soveel mag beskik dat hy eintlik vrywillig tydelik van sy uitvoerende gesag afstand doen, en wanneer die wind minder stormagtig waai, self besluit wanneer hy die land weer (skadelik) gaan tref?
Of is daar werklik magte in die ANC wat sterker as Zuma is? Ná Zuma se verkragtingsaak (die stortkop-insident) en hy sy vriend Irwin Khosa se dogter in die ander tyd gesit het, het ’n groep van oudstes na berig word Zuma voor stok gekry.
Uit die berigte kon afgelei word dat hierdie skimagtige groep al meer keer in die presidensie, ook van Mbeki, ingegryp het en moontlik só invloedryk is dat hulle die eindfluitjie vir ’n president kan blaas. Maar ná hierdie insident het die groep skynbaar in die lug verdamp, en indien wel, hoeveel het Zuma daarmee te make?
Met die Nene-insident is daar beslis ingegryp, maar presies wat die terme was, en hoe durend hierdie terme is, kan net geraai word. Uit berigte lyk dit of die ANC, minstens dié in die parlement, weer baie duidelik agter Zuma gekonsolideer het.
Is daar dan ’n soort vloeibaarheid waar Zuma se gesagsposisie afhang van die mate waarin teenstrydige kragte (tydelik) die oorhand oor die ander kry? Of is daar ’n riglyn oor welke sake Zuma “toegelaat” word om duidelik die septer te swaai? Of word dit op ’n ad hoc-basis agter die skerms besluit?
Wat ook al die waarheid is, teen dié tyd is dit reeds duidelik dat nog geen pogings tot dusver om te probeer voorkom dat Zuma skadelike onhebbelikhede kwytraak, suksesvol was nie. Dit moet onthou word dat Zuma se bewind nie net sterk op patronaatskap gebou is nie, maar dat hy groot aanhang op veral die KwaZulu-Natalse platteland het. Hy het genoeg spierkrag om tot ’n groot mate sy eie lot binne die ANC te dikteer.
En juis hierin lê die gevaar om as ’n soort suigstokkie met Zuma ooreen te kom om in 2017 die presidentskap neer te lê in ruil daarvoor dat hy ’n derde termyn as ANC-president kry (en dat aanklagte teen hom blywend op die lange baan sal bly). En vanuit hierdie posisie kan Zuma die land nog oneindig baie skade berokken.
In ’n bydrae in Netwerk 24, “SA burgers span hul grondwet in”, belig dr. Leopold Scholtz ’n belangrike instrument wat burgers in die hand het om dié soort nadelige magsvergryp aan bande te lê. Natuurlik is die grondwet vol gebreke, en Scholtz gee dit gebruiklikerwys toe, maar namate die burgers leer wat hul regte is en hoe om dit op te eis, hoe beter lyk die grondwet ook. Die probleem is dat bitter min individue die geldelike vermoë het om die howe in te span. Dit beklemtoon weer die waarde van nog ’n been van die grondwetlike demokrasie, naamlik die teenwoordigheid en doeltreffendheid van burgerlike instellings. Dit maak dit moeilik vir ’n regering om te maak en breek soos hy wil, want doen hy dit gaan instansies soos Freedom Under Law, Outa en die Solidariteit Beweging hof toe.
Trouens, in sekere akademiese kringe is Solidariteit en AfriForum verkwalik oor die “neiging” om oor alles “hof toe te hardloop”. Maar daarsonder sou die regte in die grondwet bloot papiervermorsing gewees het. Die ANC-regering, met of sonder Zuma, se ore moet soms nadat alle ander pogings misluk het, bitter hard getrek word.