
Voorgestelde nuwe “BB”-nommerplate vir Noordwes Foto: Amptelike Twitter-rekening van die Noordwes-regering deur die kantoor van die premier (@setsokotsanebb, Twitter)
Die Demokratiese Alliansie het Woensdag gesê hy het verhoed dat nommerplate in Noordwes van NW na BB vir Bokone Bophirima verander word.
“Die DA het tydens ʼn vervoerportefeuljekomitee pogings deur die ANC verwerp om die proses te stoomroller terwyl grondwetlike voorskrifte ondermyn word,” het Sello Motsoenyane, DA-woordvoerder van gemeenskapsveiligheid, gesê.
Hy het gesê die departement van vervoer het nie enige vorm van openbare konsultasie of deelname onderneem nie. “Weens die DA se beswaar het die portefeuljekomitee ingestem om weer aan die einde van Maart met die proses te begin, om voldoende tyd te gun vir publieke deelname en konsultasie,” het Motsoenyane bygevoeg.
Daar is ʼn verwarring oor die provinsie se naam. Provinsiale staatsdepartemente verwys na die provinsie as Bokone Bophirima, ʼn direkte Setswana-vertaling van Noordwes.
Premier Supra Mahumapelo het dit in Junie 2015 benadruk dat daar geen planne is om die naam van die provinsie te verander nie.