Solidariteit het in ʼn verklaring gesê De Beers, wat deur Anglo American besit word, beplan om 152 poste by sy Venetia-myn buite Musina af te skaf. Daarby beoog die maatskappy om sowat 214 poste by van sy ander myne in Suid-Afrika af te skaf.
Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, is hierdie aankondiging gemaak kort voor Anglo American se inligtingsessie waartydens die maatskappy gesê het sy finansiële posisie het die afgelope ruk geweldig verswak. “Anglo American en De Beers wil hul 53 myne wêreldwyd tot slegs 16 verminder. Daarby wil Anglo American sy platinummyne in Suid-Afrika tot slegs vyf verminder, en beplan die maatskappy om Kumba Iron Ore te verkoop. Voorts wil die maatskappy ook al nege sy steenkoolmyne in Suid-Afrika verkoop,” het Du Plessis gesê.
Du Plessis het ’n beroep gedoen op die maatskappye wat Anglo American se myne gaan oorkoop om die maatskappy se goeie standaarde en diensvoorwaardes op ʼn verantwoordbare wyse te eerbiedig. “Ons doen voorts ook ʼn beroep op die nuwe eienaars van die myne om tydens die oornameproses toe te sien dat daar geen afleggings by die myne sal wees nie,” het hy gesê.
Du Plessis het ook gesê Anglo American en soortgelyke mynmaatskappye moet eerlik wees oor die werklike redes vir die afskaling van hul Suid-Afrikaanse bedrywighede. “Indien Anglo American se afskaling eintlik met die ongunstige politieke en ekonomiese klimaat in Suid-Afrika te make het, moet die bestuur van die maatskappy dit openlik verklaar,” het hy gesê. “Dit is hoogtyd dat die regering tot verantwoording geroep word vir sy aandeel in groot internasionale maatskappye se afskaling in Suid-Afrika.”