Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Ontsnapping: Slagoffers leef in vrees

$
0
0
Chris Sithole. Foto: SAPD

Chris Sithole. Foto: SAPD

Die vier gevaarlike verhoorafwagtende verdagtes wat onlangs uit ʼn bewegende polisievoertuig in Noordwes ontsnap het, is steeds op vrye voet. Intussen leef die slagoffers en hul geliefdes in vrees dat hulle weer kan toeslaan.

Die vier mans het op 5 Februarie uit ʼn bewegende polisievangwa, wat verhoorafwagtendes vanaf die Mogwase Sentraal-gevangenis na die Brits-landdroshof in die provinsie Noordwes vervoer het, ontsnap. ʼn Motoris op die N4 het die verdagtes sien ontsnap en die bestuurder dadelik in kennis gestel. Hulle was egter reeds weg toe die polisievoertuig stilgehou het.

Alfonzo Mpofu. Foto: SAPD

Alfonzo Mpofu. Foto: SAPD

Die ontsnaptes is dieselfde dag geëien as Chris Sithole (24), Alfonzo Mpofu (25), Gibson Msimango (25) en Ontse Lebese (27). Sithole, Mpofu en Msimango is almal van Zimbabwe en Lebese is van Ga-Rankuwa in Pretoria.

Sithole en Mpofu, wat tereg staan op aanklagte van moord, roof en verkragting, is glo onder meer saam met die meesterbrein agter die moord op ʼn Pretoriase boer, Hans Huyser (50), in hegtenis geneem. Huyser is op 2 Januarie 2012 doodgeskiet terwyl hy ’n pap band langs die pad omgeruil het. Huyser, sy vrou, kleindogter en susterskind was die dag saam met vriende by Sun City en het die aand teruggery na hul plaas by Onderstepoort in die noorde van Pretoria. Hy is omstreeks middernag op die N4-hoofweg naby Brits drie keer in sy bolyf geskiet terwyl hy die band wou omruil. Die aanvallers het ook gedreig om sy vrou, Cindy, te verkrag, voordat hulle met ʼn selfoon en handsak op vlug geslaan het. Huyser is in sy vrou se arms dood. Sithole en Mpofu is ʼn paar dae ná die moord in hegtenis geneem.

Huyser se dogter, Sarah (24), het Dinsdag aan Maroela Media gesê die nuus dat haar pa se vermeende moordenaars ontsnap het, was net so ’n groot skok soos die dag toe sy moes hoor haar pa is doodgeskiet. “Ons rou en is hartseer. Dis skokkend om meer as ʼn week nadat hulle ontsnap het op Facebook daarvan te lees. Die polisie het ons glad nie eens laat weet nie,” het sy ontstoke gesê. “Dis skrikwekkend om te dink dat Sithole en Mpofu weer daar buite is. My ma is steeds getraumatiseer, haar man met wie sy meer as 30 jaar lank getroud was, lê in die graf en hulle loop vry daar buite los, weer reg om te vermoor en te verkrag. Ons wil weet hoe hulle ontsnap het; ons wil hê geregtigheid moet geskied en dat hulle boet vir hul dade.”

Sy het gesê hulle het alle respek vir die polisie verloor en sy vermoed die ontsnapping was ʼn “inside job”.

Maroela Media het vroeër berig Lebese en Msimango is albei verhoorafwagtend op aanklagte van poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die verdagtes was glo betrokke by die aanval op Hannes (77) en Annetjie (74) van der Merwe in Januarie 2015 op hul familieplaas in die De Wildt-omgewing in Noordwes.

Die egpaar is met die vuis, ʼn byl, pistool en afgesaagde haelgeweer asook ʼn stuk pyp geslaan. Die marteling het glo sowat twee uur geduur. Annetjie se heup is tydens die aanval erg beseer en Hannes is met ʼn strykyster gebrand.

Callie van der Merwe, hul seun, het gesê hy is uiters teleurgesteld oor die “nalatigheid” van die polisie. “Dit het baie moeite geverg om die verdagtes in die tronk te kry en ná die ontsnapping voel dit asof dit alles vir niks was.”

Hy sê voorts sy familie is opnuut gespanne en die sielkundige en mediese nagevolge het ʼn groot invloed op sy ouers se lewe gehad. “Ons moes die verdagtes uitken, daarom weet hulle ook hoe ons lyk. Dit is menslik om te vrees dat hulle wraak sal wil neem.”

Van der Merwe sê hy vermoed dat die ontsnapping vooraf beplan en die polisiebeamptes dalk omgekoop is.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die soektog na die vier verdagtes duur onverpoos voort en die polisie volg alle leidrade op wat hulle ontvang. Die polisie het wel vasgestel hoe die ontsnapping plaasgevind het, en doen tans interne stappe. Hy wou egter nie meer oor die ontsnapping uitwei nie.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!