
Die ongelukstoneel op die N14 naby Diepsloot op 14 Februarie 2016 Foto: ER24
ʼn Bekende sepie-akteur is in die Milpark-hospitaal opgeneem ná ʼn ongeluk op die N14 naby Diepsloot, in die noorde van Johannesburg, waartydens twee mans gesterf het.
Rapulana Seiphemo, beter bekend as Tau Mogale in die gewilde Generations-sepie, se woordvoerder, Gaaratwe Mokhethi, het bevestig Seiphemo is in die ongeluk beseer.
Volgens paramedici het die twee motors mekaar Sondagaand reg van voor getref. “Daar was drie persone in elke motor. Twee persone, een in elke motor, het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, gesê. “Vier persone is in die ongeluk beseer, waarvan twee persone kritieke beserings opgedoen het.”
Die twee persone wat kritieke beserings opgedoen het, is met ʼn helikopter na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. Die ander twee persone wat beseer is, is met ʼn ambulans na ʼn hospitaal geneem.
Mokhethi het gesê hulle wil graag ruimte aan die familie bied om die trauma te verwerk. “Rapulana is ʼn vegter. Hy sal dit definitief maak.”
Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.


