Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Lily-myn: Vergoeding aangebied vir mynwerkers

$
0
0

'n Lugfoto van die ineenstorting. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

‘n Lugfoto van die ineenstorting. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

Vantage Goldfields het R200 000 aangebied aan elk van die drie mynwerkers wat steeds in die Lily-myn in Barberton, Mpumalanga, vasgekeer is.

Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, het Saterdag aan verslaggewers buite die myn gesê die drie vasgekeerde mynwerkers en die meer as 70 werkers wat veilig uit die myn gered is, sal vergoeding ontvang.

“Ek het met die mynbestuur gepraat. Die vergoeding kom spesifiek van hulle af,” het Zwane gesê. “Na ons gesprek het ons saamgestem dat ons na ons werkers moet omsien. Hierdie mense werk eintlik vir ons almal. Ons het ooreengekom dat elk van die werkers wat oorleef het, R50 000 sal ontvang en die drie werkers wat steeds ondergrond vasgekeer is, sal elk R200 000 ontvang,” het hy gesê.

Hy het gesê die maatskappy was “onbaatsugtig” tydens die onderhandelinge.

Zwane het ʼn beroep op mense gedoen om niemand te blameer nie en eerder op die reddingspoging te fokus. “Die ondersoek na die oorsaak van die ramp sal hanteer word wanneer ons ons hoofdoelwit bereik het – om die mense uit hierdie ramp te red,” het hy gesê. “Ek verseker mense ons sal geen steen onaangeroer laat om die saak te hanteer wanneer die tyd reg is nie.”

Yvonne Mnisi, Pretty Mabuza en Solomon Nyarenda is al meer as week in ʼn skeepshouer onder die grond vasgekeer nadat ʼn gedeelte naby die ingang van die myn verlede Vrydag ineengestort het. Reddingsaksies moes Saterdagoggend gestaak word na ʼn tweede ineenstorting omstreeks 05:00 in die myn plaasgevind het.

Zwane het mense ook versoek om nie te bespiegel daaroor of die vasgekeerde mynwerkers nog lewe of nie. “Ons praat hier van mense se lewens en ek dink ons moet versigtig wees oor wat ons sê. Hierdie mense se families sit hier en hulle het baie hoop. Ons moet hierdie families bystaan en bid vir ʼn wonderwerk dat hierdie mense lewend na die oppervlak gebring sal word,” het hy gesê.

“Soos die dae en die week aangaan, is ek seker ons sal saam die nodige besluit neem. Vir nou vra ek dat ons nie die situasie vooruitloop nie. Kom ons ondersteun die families en bly hoop.”


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621