Nadat verteenwoordigers van 17 lande wat by die konflik in Sirië betrokke is deurnag in München, Duitsland, koppe bymekaargesit het, is vanoggend aangekondig dat voorlopige vredesplanne in werking gestel gaan word.
Die voorstelle behels dat gevegte in die komende dae “geleidelik” gestaak word, en dat humanitêre hulp dadelik na gebiede moet kan gaan wat nou van hulp afgesny is.
Verhale van onnoembare ontbering bereik die buiteland. Dit móét tot konkrete vredesvoorstelle lei. Die samesprekings sluit nie die twee radikale terreurorganisasies, die IS en Al Nusra, in nie.
Daar is egter probleme. Rusland het voorgestel dat die skietstilstand eers op 1 Maart in werking tree, maar die VSA meen dit bied Rusland die geleentheid om onbeheers bombardemente ter ondersteuning van pres. Al-Assad uit te voer.
Die pro-demokratiese alliansie, wat ook onder Russiese bombardemente deurloop, is ook skepties of die jongste planne enige positiewe gevolge sal hê. Die Russiese premier, Dmitri Medwedef, het in ’n onverwante media-onderhoud gewaarsku dat Rusland en die ander moondhede se verskillende opvattings oor wie vyand, en wie vriend is, tot ’n volgende wêreldoorlog kan lei.
Formele vredesamesprekinge word weer op 25 Februarie in Genève hervat.
Bronne: Trouw, De Standaard, FocusOnline