AfriForum Jeug en die Universiteit van Stellenbosch (US) het Vrydag in die hooggeregshof in Kaapstad ooreengekom dat Afrikaans gelyke status met Engels as onderrigmedium sal geniet soos goedgekeur tydens die universiteit se raadsvergadering in 2015.
Volgens Bernard Pieterse, AfriForum Jeug se kampuskoördineerder vir Maties, is die burgerregte-organisasie tevrede dat die US bes gegee en skriftelik onderneem het dat stappe gedoen sal word om te verseker dat alle fakulteite die universiteit se taalbeleid en -plan sowel as die taalspesifikasies soos in die 2016-Jaarboek geplaas, sal toepas.
Die Ingenieurs- en Regsfakulteit van die US het onderskeidelik op 23 en 25 Januarie vanjaar besluit dat Engels die primêre taal van onderrig moet wees. AfriForum Jeug het die universiteit op 29 Januarie versoek om die onomwonde versekering te gee dat die nodige stappe gedoen sou word om die inwerkingstelling daarvan te verhoed.
Die US het egter geweier om aan die versoek gehoor te gee en AfriForum Jeug het gevolglik op 5 Februarie ʼn hofaansoek gerig om die universiteit te verplig om die toepassing van die twee genoemde fakulteite se besluite op te hef, die Jaarboek se taalspesifikasies te eerbiedig en die taalbeleid en -plan tot uitvoering te bring.
Die US het ná Vrydag se hofverrigtinge skriftelik onderneem om bogenoemde eise na te kom.
“Die hofuitspraak is nie slegs ʼn belangrike oorwinning vir die Afrikaanse studente van Stellenbosch nie, maar ook vir die breër Afrikaanssprekende gemeenskap,” het hy gesê.
“AfriForum Jeug spreek die hoop uit dat dit nie weer in die toekoms nodig sal wees om die US by wyse van hofaansoeke te verplig om sy interne reëls na te kom nie. Die jeugorganisasie sal egter nie huiwer om namens studente op te staan indien hul regte in gedrang is nie.”
Hein Gonzales, AfriForum Jeug se woordvoerder, het bygevoeg dat personeel, studente en alumni wat pro-Afrikaans is die institusionele besluitnemingstrukture van die US moet benut om Afrikaans se plek op die kampus op lang termyn te verseker. “Dit kan slegs gedoen word indien personeel, studente en alumni aktief deelneem aan die proses wat gevolg word om hierdie strukture saam te stel,” het hy gesê.