ʼn Man in sy 30’s is dood nadat sy huis in Reservoir Hills, KwaZulu-Natal, afgebrand het.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici was op pad na hul kantore toe hulle rook in ʼn woongebied gesien het. Die brandweer is ontbied en paramedici het hulle na die toneel in Dunstoneweg gehaas.
“Die huis was in ligte laaie met paramedici se aankoms op die toneel. Brandbestryders het gespook om die brand te blus.” Volgens Meiring is die liggaam van ʼn man in die puin gevind. Die oorledene was glo 35 jaar oud.
Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie en word ondersoek.