
Boeta van der Westhuizen (links), Johan Cilliers sr., Johan Cilliers jr. en Anton Loggenberg tydens hul vorige hofverskyning. Foto: Mariné Jacobs
Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het aan Maroela Media gesê kapt. Henk Prinsloo (46) het Donderdagoggend in die Parys-landdroshof verskyn op ʼn aanklag van moord. Hy is op borgtog van R5000 vrygelaat.
Prinsloo sal Vrydag weer saam met die vier ander verdagtes, Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Johan Cilliers sr. en sy seun, Johan Cilliers jr., in die hof verskyn. Volgens Mulaudzi het Prinsloo se beweerde betrokkenheid by die moorde aan die lig gekom nadat ‘n ooggetuie sy naam aan die Valke genoem het en hy by ‘n uitkenningsparade uitgewys is.
Die vier boere is in Januarie in hegtenis geneem vir die moorde op Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Tjixa en Jubeba was na bewering op 6 Januarie glo betrokke by ʼn aanval op ʼn boer in die omgewing. Toe hulle glo na die aanval gevlug het, het ʼn groep boere van die omgewing hulle aangekeer.
Toe die polisie op die toneel aankom, was die twee vermeende aanvallers glo erg aangerand. Hulle is deur die polisie na ʼn hospitaal geneem, waar hulle later dood is. Volgens Mulaudzi was Prinsloo een van die eerste polisiemanne op die toneel, maar hy het na bewering nie die plaasaanvallers “gered nie”, maar “glo eerder die boere gehelp om die oorledenes aan te rand”.
Lede van die EFF en die ANC, wat tydens die boere se laaste hofverskyning voor die hof betoog het, het aan Maroela Media gesê Tjixa en Jubeba was nie plaasaanvallers nie, maar bloot plaaswerkers wat na die plaas gegaan het om hul lone te gaan haal.