Die waterlikkewaan wat verlede week uit ʼn inwoner van Pretoria se swembad gered is, is Dinsdagmiddag in ʼn veilige omgewing by die Roodeplaatdam, noordoos van die stad, vrygelaat.
Craig Allenby, woordvoerder van die Nasionale Dieretuin, het Woensdag aan Maroela Media gesê ʼn natuurbewaarder van die dieretuin het die likkewaan omstreeks 16:30 vrygelaat nadat veeartse die groen lig gegee het dat dit gesond en sterk genoeg is om op sy eie te oorleef.
“Die waterlikkewaan het dadelik weggeskarrel toe sy hok oopgemaak is. Hy het so vinnig in die bosse ingeskarrel dat daar nie eens tyd was om ʼn foto van hom te neem nie. Die feit dat hy baie aktief was, is ʼn goeie teken,” het Allenby gesê.
Hy het gesê natuurbewaarders het die spesifieke gebied by die dam gekies omdat waterlikkewane natuurlik daar voorkom, en daar word verwag dat hy perfek sal aanpas. “Hy is ook meer veilig daar omdat hy ver is van geboude gebiede en mense wat hom moontlik vir vleis sal jag.”
Allenby het gesê die gebied is propvol prooi soos muise, krappe, vis, slange en voëls sodat die reptiel nie sal honger ly nie.
Maroela Media het verlede Dinsdag berig die volwasse likkewaan wat 1,5 m lank is en 4,5 kg weeg het groot opwinding veroorsaak toe hy te midde van ʼn hittegolf wat Pretoria getref het, in ʼn inwoner van Villeria in die Moot-gebied se swembad gaan swem het.
ʼn Natuurbewaarder het die likkewaan gaan red en na die dieretuin se dierehospitaal geneem. Daar was ʼn stuk tou om sy nek verstrengel. Die tou het ʼn groot letsel veroorsaak en was heel waarskynlik al ʼn geruime tyd om sy nek. Die tou het die likkewaan se hioïedbeen in sy nek beskadig.
Allenby het gesê daar word vermoed dat die likkewaan voorheen vasgebind was en losgebreek het. “Iemand het hom dalk vasgemaak om aan te hou as troeteldier, om die vleis te eet, of om dele van die likkewaan te gebruik vir tradisionele medisyne. Aangesien die vleis eetbaar is, is die mees waarskynlike rede dat die reptiel geëet of vir tradisionele medisyne gebruik sou word.”