Die noodbandjie om sy arm met inligting op van die ambulansdiens wat hy besit, het daartoe bygedra om ʼn Pretoriase paramedikus se lewe te red, nadat mans wat hulle glo as polisiebeamptes voorgedoen het, hom tydens ʼn rooftog erg aangerand het.
Kobus Bester (45), paramedikus en eienaar van Best Care-ambulansdienste in Pretoria, is Dinsdagaand op pad na sy huis in die weste van die stad aangeval en beroof, nadat ʼn wit Volkswagen Golf met blou ligte hom van die pad af gedwing het.
Xander Loubser, Bester se seun en woordvoerder van die familie-onderneming, het Woensdag aan Maroela Media gesê sy pa het in sy eie bakkie, ʼn nuwe Volkswagen Amarok, gery toe die voorval plaasgevind het.
“My pa het ʼn prokureursvriend in Hartbeespoort gaan besoek en was op pad terug na sy huis in Mountain View toe die Golf hom in Van der Hoffweg van die pad af getrek het,” het Loubser gesê.
Loubser het gesê twee mans het uit die motor geklim, Bester genader en vir sy rybewys gevra. “Toe my pa die lisensie uit sy beursie uithaal, het hulle sy deur oopgemaak, hom uit die bakkie gepluk en met ʼn mes gesteek, geslaan en geskop.”
Bester kon daarin slaag om ten spyte van steekwonde aan sy kop en linkerarm, die twee aanvallers af te weer. “My pa ry altyd met ʼn spesiale mes rond wat paramedici op ongelukstonele gebruik om sitplekgordels mee te sny of om ruite te breek. Hy het die mes in die hande gekry en hulle met die hef bygedam.”
Die aanvallers het slegs Bester se beursie en selfoon gegryp voordat hulle van die toneel weggejaag het.
ʼn Motoris het die bebloede Bester langs die pad aangetref en met behulp van sy Best Care-noodbandjie hulp ontbied. Best Care het hom na die Eugene Marais hospitaal gehaas, waar hy in die waakeenheid opgeneem is. Buiten die twee steekwonde, het hy ook ʼn snywond onder sy linkeroog opgedoen en verskeie kneusplekke aan sy bolyf, waar hy geskop en geslaan is.
“Sy toestand is darem bevredigend. Hy is steeds in die waakeenheid vir observasie en word vir pyn behandel. Hy het baie seer,” het Loubser bygevoeg.
Hy het gesê dit was die derde keer wat sy pa onder rowers deurgeloop het en elke keer het hy hulle afgeweer. Bester is in 2011 in sy arm met ʼn mes gesteek toe hy vermeende inbrekers op sy erf verjaag het. In 2008 is hy deur rowers, wat sy bakkie by sy huis wou steel, in sy middellyf geskiet, enkele ure voordat hy en sy vrou Elize, wat ook ʼn paramedikus is, hul huweliksbeloftes sou hernieu nadat hulle 12 jaar getroud was.
Volgens Loubser ondersoek die Hercules-polisie die voorval. Bester kan onthou dat sy aanvallers glimbaadjies aangehad en hulself só as polisiebeamptes voorgedoen het. Loubser het bygevoeg die moontlikheid bestaan dat die aanvallers die bakkie wou kaap, maar hul pogings laat vaar het toe Bester hom verset het.
Beamptes van die polisie se honde-eenheid het glo later die aand die verdagtes se voertuig in die omgewing sien rondry, maar dit ná ʼn jaagtog in Atteridgeville verloor.
Kapt. Augustinah Selepe, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê ʼn saak is nog nie by die polisie aanhangig gemaak nie. “Die polisie was in verbinding met die slagoffer se vrou om ʼn verklaring te kry sodat die dossier oopgemaak kan word, aangesien die man nog in die hospitaal is. Sodra alles afgehandel is, sal meer inligting bekendgemaak word, asook watter sake die polisie ondersoek,” het Selepe gesê.