
Een van die meisies wat valslik daarvan beskuldig is dat sy haar gesig “swart” gesmeer het Foto: Facebook
Die vakbond Solidariteit het gesê hy gaan ʼn mosie van wantroue teen die bestuur van die Universiteit Stellenbosch instel. Dit volg nadat die universiteit Vrydag twee Matie-studente, wat valslik van rassisme beskuldig is, geskors het.
Die drukgroep, Open Stellenbosch, het twee Matie-damestudente, Poekie Briedenhann en Jo-Anne Cloete, verlede week van rassisme beskuldig nadat hulle hulself vir ʼn koshuispartytjie pers geverf het. Die groep het valslik beweer die studente het hulself swart geverf om met swart mense die spot te dryf, waarna die studente uit hul koshuis geskors is.
Volgens Johan Botha, adjunk uitvoerende hoof van die professionele bedryf by Solidariteit, is die ondeurdagte, ongenaakbare optrede teen die twee studente onaanvaarbaar en skep dit ʼn uiters swak presedent. “Twee studente wat onskuldige pret wou hê, is valslik uitgekryt as rassiste. Nie net is hul lewens ontwrig deur hul skorsing uit hul koshuis uit nie, maar hulle is wyd veroordeel en deur ander studente uitgejou. Die universiteit se optrede is duidelik polities gemotiveerd,” sê Botha.
Botha meen die optrede teen die Matie-studente is in skrille kontras met die wyse waarop die onlangse rassistiese gedrag van studente op Wits hanteer word. “Studente op Wits word toegelaat om teen die mure van geboue op kampus die woorde ‘F*ck white people’ te spuitverf. Volgens die bestuur van Wits sal daar nie teen hierdie studente opgetree word nie omdat hulle bloot hul grondwetlike reg tot vryheid van spraak uitgeleef het. Die wyse waarop gewaande rassisme by een universiteit en klinkklare rassistiese optrede by ʼn ander universiteit hanteer is, staan in skrille kontras tot mekaar,” sê Botha.
Botha waarsku dat die boodskap wat die bogenoemde gebeure kommunikeer uiters negatiewe gevolge inhou. “Die bestuur van die bogenoemde universiteite skep ’n president waarvolgens rassisme teen wit mense aanvaarbaar is, terwyl wit mense swaar gestraf moet word vir beweerde rassisme teen swart mense. Ons meen alle vorme van rassisme, deur alle rassegroepe, is onaanvaarbaar en moet dieselfde op alle kampusse regoor die land hanteer word,” sê Botha.
Solidariteit het ʼn petisie saamgestel om sy mosie van wantroue teen Maties se bestuur te steun. Klik hier vir meer inligting en om die petisie te onderteken.