
Julius Malema. Foto: ANA
Die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag ʼn interdik toegestaan wat Julius Malema en sy party, die Ekonomiese Vryheidsvegters, verbied om die Gupta-familie en hul werknemers met geweld te dreig.
Regter Johan Louw het in sy kort uitspraak gesê hy sal in ʼn latere stadium die redes verskaf waarom hy die interdik vir die Gupta-familie toegestaan het.
Die prominente gesin en hul sake-entiteite het ʼn dringende aansoek by die hof ingedien om ʼn interdik te bekom wat Malema en lede van sy party sou verbied om te sê dat die Guptas se lewens in gevaar is.
Maroela Media het vroeër berig Malema het verlede week tydens ʼn perskonferensie gesê hy verbied enige verslaggewers wat vir mediamaatskappye, wat aan die Guptas behoort, om enige EFF-geleenthede by te woon of daaroor te berig. Malema het gesê hy kan nie die veiligheid van joernaliste, wat vir ANN7 en die New Age-koerant werk, verseker nie.
Adv. Gert van der Merwe, vir die Guptas, het gesê ongeveer 4 000 persone werk vir die Gupta-familie en sy handelsentiteite, wat die media-organisasies insluit.
Ishmael Semenya, vir Malema en die EFF, het aangevoer Malema se uitlatings was deel van sy verkiesingsveldtog, en hy het nie fisiese geweld bedoel nie.