Jeremy Gauntlett, Zuma se regsverteenwoordiger, het gesê dié bewerings kan die weg berei vir opposisiepartye om hom in ʼn staat van beskuldiging te plaas.
Gauntlett het Dinsdag aan die elf regters van die hof gesê dit is ʼn “sensitiewe tyd in ʼn gevaarlike jaar”. Die hofverrigtinge is tans aan die gang in die hofgeding tussen Zuma en die DA en EFF. Die opposisiepartye voer aan Zuma het die Grondwet oortree toe hy nie Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, se aanbevelings oor sy Nkandla-woning toegepas het nie.
“Dit sal verkeerd wees as hierdie hof ʼn uitspraak lewer wat daartoe kan lei dat die president in ‘n staat van beskuldiging geplaas word. Die DA en EFF kan dit probeer. Sommige het geargumenteer dat die president uitdagend was, maar dit was ʼn wetlike fout,” het Gauntlett gesê.
Gauntlett het vroeër aan die hof gesê Zuma aanvaar Madonsela se aanbevelings as “bindend” en hy is bereid om ʼn bedrag van belastingbetalers se geld terug te betaal.
Zuma het verlede week aangebied om die saak buite die hof te skik en ʼn gedeelte van die geld, wat deur die ouditeur-generaal bepaal sal word, terug te betaal, maar die DA en die EFF het gesê hulle gaan voort met hul hofaansoek.
Die verhoor duur voort.