
Swembaddens op Durban se strand Foto: bugbog.com
ʼn Aardbewing wat Saterdagoggend in KwaZulu-Natal se kusgebiede gevoel is, was onwaarskynlik groter as 3.0, het die Raad vir Geowetenskap gesê.
“Ons sal ongelukkig eers Maandag die ligging en omvang kan bevestig,” het seismoloog Michelle Grobbelaar aan ANA gesê. “Maar dit wil voorkom of die aardbewing in die KwaZulu-Natalse streek voorgekom het en wyd oor die provinsie gevoel is.”
Die aardbewing is vanoggend omstreeks 11:30 gevoel en het ʼn paar sekondes lank voortgeduur. “Dit is onwaarskynlik dat dit groter as 3.0 was, maar dit moet bevestig word,” het sy bygevoeg.
Grobbelaar het gesê daar was al vantevore aardbewings in die provinsie, die vroegste aantekening op die raad se rekords is in 1932 naby St Lucia. “Mens hoef dus nie besorg te wees nie, maar net bewus wees van hoe om op sulke voorvalle te reageer,” het sy gesê.
Duisende mense het op Facebook en Twitter berig hulle het die bewing tot so ver suid as Margate in die suide en Richardsbaai in die noorde gevoel, en tot so ver in die binneland as Pietermaritzburg.
Daar was nie dadelik enige berigte van skade ná die aardbewing nie.
Robert McKenzie, woordvoerder van die provinsiale nooddienste, het gesê volgens hul inligting is die aardbewing van Stanger tot Port Shepstone en Pietermaritzburg gevoel.
Derek van Dam, meteoroloog by CNN en CNN International het intussen bevestig die aardbewing in KwaZulu-Natal was nie ‘n náskok van die aardbewing van 6.4 in Taiwan waartydens minstens 13 mense reeds omgekom het nie.