
Rhodes-gedenkteken in Kaapstad Foto: Pixabay
Nóg ʼn student aan die Universiteit van Kaapstad is naby die Rhodes-gedenkteken verkrag, wat die aantal aanvalle in dié gebied op vier te staan bring.
“Dit is met groot ontsteltenis dat ek weer moet kennis neem van ʼn vroulike student wat seksueel aangerand is toe sy op die berg in die rigting van die Rhodes-gedenkteken gestap het,” het Kylie Hatton, waarnemende uitvoerende direkteur van kommunikasie en bemarking van die universiteit, gesê.
Die jongste voorval het Donderdagaand plaasgevind, en dit is Vrydagoggend by die universiteit se kampusbeskermingsdiens en die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangemeld, het sy gesê.
Die student het omstreeks 18:00 die M3-brug naby Rhodeslaan oorgesteek en teen die heuwel opgestap in die rigting van Rhodes-gedenkteken. “Toe sy omstreeks 20:00 terugkeer, is sy aangeval en in ʼn bos ingetrek en herhaaldelik verkrag. Sy is Vrydagoggend omstreeks 01:00 vrygelaat waarna sy die voorval by die polisie aangemeld het,” het Hatton gesê.
“Die polisie het bevestig dat dit wil voorkom of dit die werk is van ʼn reeksmisdadiger wat waarskynlik ook vir drie onlangse voorvalle tydens Desember en Januarie verantwoordelik is,” het Hatton bygevoeg. “Die aanvaller word beskryf as ʼn welsprekende man wat in gesprek tree met die persone wat hy aanval. Hy is slank gebou en in sy 20’s. Dit wil voorkom of hy die berg goed ken. hy dra ʼn sweetpakbaadjie met ʼn kappie en ʼn swart langbroek.”
Hatton het studente en personeel weer gemaan om versigtig te wees wanneer hulle nie op kampus is nie. “Indien jy enige verdagte aktiwiteit naby die kampus opmerk, meld dit asseblief dadelik by die veiligheidskantoor aan,” het sy gesê. “Indien jy bystand benodig, kontak kampusbeheer by 021 650 2222/3 (beskikbaar 24/7).” Sy moedig studente aan om die nommer op hul selfone te stoor.
Die universiteit het verlede maand bykomende veiligheid op die brug oor die M3 geplaas, wat as ʼn deurgang gebruik word deur studente wat na die boonste deel van die kampus wil stap.
“Ons werk steeds saam met die polisie, SANParke en ander belanghebbendes om te reageer op hierdie kriminele aktiwiteit, en om ʼn veiliger plek vir almal te skep,” het hatton gesê. “Die studente en personeel word aangeraai om van die Jammie-pendeldiens gebruik te maak, die UK-blouroete te gebruik waar moontlik en om, indien moontlik, nie alleen te stap nie. Bestudeer ook weer die veiligheidsmaatreëls wat op die universiteit se webwerf gepubliseer is.”
Hatton het gesê die polisie het ook ʼn waarskuwing uitgereik oor twee ander tipes misdaad, wat oënskynlik op studente fokus. Dit is rooftogte by die kitsbanke in Mainweg wat deur Mowbray, Rondebosch en Observatory loop. Daar is ook ʼn slenter waar deposito’s vir ʼn woonstel versoek word. “Persone plaas advertensies op webwerwe soos Gumtree om woonstelle te huur aan te bied. Foto’s van woonstelle wat eintlik in Seepunt geleë is, word gebruik om ʼn adres in Mowbray, spesifiek Selbyweg, te adverteer. Aansoekers word versoek om ʼn EFT-oorbetaling te doen as ʼn deposito, sonder die opsie om die woonstel te sien of die sleutels van die woonstel te kry.”
Lees alle vorige berigte oor die Rhodes-gedenkteken op Maroela Media.