Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Zuma vs die boere / Boere

$
0
0

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Gaan Zuma in sy staatsrede die lug tussen hom, die boeregemeenskap en die Afrikaner probeer suiwer? Dis beslis iets wat dringend nodig is. Of gaan hy die wig dieper indryf? Ook oor ander kwessies lê die pak skuldbriewe wat in die toespraak vereffen moet word dakhoog.

Miskien nou, met tekens van ’n verswakte pres. Jacob Zuma en broeiende faksiegevegte in die ANC is dit juis ’n goeie tyd om Zuma vas te vat. Daar kan dalk (stille) steun uit onverwagse oorde kom.

’n Teken dat die voet nou neergesit word, én steun geniet, was berigte oor die nuus dat die TLU SA ’n prokureursbrief op Zuma bestel het om hom in kennis te stel dat hy voor die gelykheidshof gedaag gaan word. Die kern van die saak is dat Zuma tydens sy sogenaamde 8 Januarie-toespraak gesê het wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. Soos maar te dikwels, het hy ook hier van sy geskrewe toespraak afgewyk om sy voet daarin te sit.

Uit die leserskommentaar is dit duidelik dat die TLU se stap groot steun geniet. Die TLU SA was nie die eerste wat Zuma hiervoor gegryp het nie. Die Vryheidsfront Plus het vroeër ook Zuma oor die einste aangeleentheid by die Menseregtekommissie (MRK) verkla. Die Menseregtekommissie se kantoor in Noordwes het hom egter gehaas om te laat weet dat hy nie die saak gaan ondersoek nie omdat hy nie jurisdiksie sou hê nie en “dat die opmerkings nie die skending van menseregte behels ingevolge die Grondwet nie”.

Die VF Plus teken appèl aan. Ander instansies, soos Front Nasionaal, doen stappe.

Te midde van die erge droogte, verhoog die regering die minimumlone van plaaswerkers met 9 persent. Dit is meer as die 7 persent, of inflasie plus een persent, waarmee die owerheid sy eie salarisrekening probeer beperk. Dit volg teen die agtergrond van ’n onlangse verslag van die Internasionale Arbeidsorganisasie waarin onder meer bevind is dat regeringsinmenging in landbousake, soos onbuigsame arbeidswetgewing, tot werksverliese in die landbousektor aanleiding gee.

Intussen dryf die ANC ’n effens verbeterde weergawe van ʼn nuwe onteieningswet deur die parlement. Hoewel dit nie net die landbou raak nie, gaan dit uiteindelik die landbou die hardste slaan. Die erns van die saak blyk daaruit dat al drie Afrikaanse Media 24-koerante vandag dieselfde hoofartikel hieroor dra. Die essensie word soos volg gestel: “Die uitdaging bly dat grondonteiening só moet plaasvind dat geen party te na gekom word nie. Hierin skiet die wetsontwerp, wat deur die portefeuljekomitee vir openbare werk aanvaar is, tekort. Die vervanging van die vryemark-gerigte beginsel van gewillige koper en verkoper – wat volgens die ANC-regering misluk het – met onteiening, stuur erg radikale seine.”

Dit alles geskied teen die agtergrond dat daar nog steeds ʼn groot wolk van onsekerheid is oor of plaasaanvalle werklik tot prioriteitsmisdaad verklaar is, en of dit ’n windslukkery met woordspel was.

Vanuit ’n grondwetlike en juridiese oogpunt is dit reg dat Zuma gegryp word. Die Grondwet vereis immers gelykberegtiging, en die regering, of regerende party, kan nie maar net lustig die mossies met voorhamers wil doodslaan, terwyl Zuma self lustig polariserende konflik aanblaas nie.

Vanuit ’n pragmatiese oogpunt is dit veel ingewikkelder. Gaan die looi van ’n gekweste Zuma enigsins vir die boere / Afrikaner / minderheidsgroepe ’n regverdiger bedeling te midde van verbeterde gesindhede bring? Of gaan dit bloot verhardend inwerk?

Natuurlik beteken die los van kwessies nie dat dinge in elk geval nie sal bly versuur nie. Salomo sou nou goed te pas gekom het.

Juis daarom is die oë so gevestig op die komende staatsrede.

Trouens, die staatsrede is nog nie gelewer nie, maar ontleders begin reeds dissekteer aan dit wat moontlik gesê gaan word. En daar is ’n magdom uiters belangrike kwessies wat aangespreek moet word, waaruit onder meer afgelei kan word of Zuma vir die res van sy termyn ’n verlamde president gaan wees.

Talle kwessies moet duidelik opgeklaar word, nadat sake soos ekonomiese beleid in weerwil van die ekonomiese ontwikkelingsplan erg verwaarloos is. Oor buitelandse beleid moet heelwat duidelikheid verkry word. Baie dinge hang in die lug weens teenstrydige uitsprake of sommer net bontpratery. Of, een ding word gesê en ’n ander gedoen.

Maar oor baie binnelandse kwessies moet baie duidelikheid gekry word. Wat verstaan die ANC onder die term “demokrasie”? Bloot maar ’n dommekrasie gemik op ’n meerheidstirannie? Of ’n grondwetlike demokrasie waar die Grondwet meer werd is as die papier waarop dit geskryf is, en waar minderheidsregte in pas met die internasionale reg is?

Oorhoofs is dit nie ’n toutrekkery tussen Zuma en die boere / Boere nie, maar in dié stadium is die krane teen die boere en die aanslag teen Afrikaans net te groot oopgedraai dat dit nie ’n belangrike aspek van die politieke werklikheid is nie.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Latest Images