Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het die aankondiging gemaak toe sy gevra is wat die volgende stap is nadat pres. Jacob Zuma die naweek aan afgevaardigdes by die Afrika-unie se beraad in Addis Abeba gesê het Suid-Afrika sal nie voortgaan met sy lidmaatskap van die strafhof nie en dat daar binnekort ʼn aankondiging hieroor gemaak sal word.
“Dit sal afhang van hoe ons as land en kontinent behandel word. Daar was geen stem van verdeeldheid onder die 54 lande van die Afrika-unie by die beraad dat Afrikane baie teleurgesteld is oor die manier waarop sake by die strafhof gedoen word nie,” het Nkoana-Mashabane gesê.
“Ons beraadslaag steeds met die strafhof. Die regerende ANC-party het dit duidelik gestel dat ons wel sal onttrek as dit nie vrugte afwerp nie. Maar ons sal op ʼn verantwoordelike wyse onttrek.”
Die Suid-Afrikaanse regering het erg deurgeloop nadat die Soedanese president Omar Al-Basjir in Junie verlede jaar Suid-Afrika besoek het om die Afrika-unie se beraad by te woon. Die Pretoriase hooggeregshof het toe gelas hy moet in hegtenis geneem word, net voordat hulle gehoor het hy het reeds die land verlaat.
Al-Basjir word beskuldig van oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en volksmoord in Soedan se westelike Darfoer-gebied. Twee lasbriewe vir sy inhegtenisneming is in 2009 en 2010 uitgereik. As lid van die internasionale strafhof is Suid-Afrika verplig om Al-Basjir aan die hof uit te lewer.