Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Meisie (9) getuig oor moord op ma

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Negejarige meisie het in trane getuig hoe sy by haar pa gepleit het om nie haar ma met ʼn mes te steek nie.

Die meisie het via ʼn videoverbinding in die hooggeregshof in Port Elizabeth getuig. Volgens die staat het die meisie se 45-jarige pa, wat destyds as tegnikus by die plaaslike munisipaliteit gewerk het, in Oktober 2013 sy vervreemde vrou herhaaldelik met ʼn mes in haar bolyf en kop gesteek terwyl hul kinders, ʼn sesjarige meisie en 11-jarige seun, in die huis in Motherwell was.

Die hofverrigtinge moes talle male onderbreek word aangesien die meisie begin huil het en moeg geraak het. Volgens die staat is die meisie en haar broer ten tyde van die beweerde voorval aangesê om na hul kamers toe te gaan.

Die meisie het getuig hoe sy uit haar kamer geloer en gesien het hoe haar ouers in die sitkamer gestry het. “Ek het gehoor my pa sê hy soek geld by my ma. My pa is na die kombuis en ek is badkamer toe. My pa het ʼn mes gevat en is terug na my ma toe voor ek terug is na my kamer toe,” het die meisie getuig.

“My pa het my ma aan haar hare getrek en haar met die mes begin steek. My ma het die mes probeer gryp. Ek het gesê: gee asseblief my ma ’n kans sy sal jou geld vir jou gee.” Volgens die meisie is sy hierna na haar broer se kamer.

Die meisie se 14-jarige broer het in camera getuig en die media en publiek is versoek om die hofsaal te verlaat. Familielede het aan verslaggewers gesê die kinders het hul pa afgeskryf en intussen ook hul van verander.

Die verhoor duur voort.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621