
Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) Foto: enca.com
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het uitlatings deur EFF-leier oor verslaggewers wat vir die omstrede Gupta-familie werk, as “onaanvaarbaar” beskryf.
“Ons neem met kommer kennis van die gevaarlike uitlatings wat EFF-leier Julius Malema vandag gemaak het, toe hy verslaggewers, wat vir ANN7 en The New Age werk, gedreig het,” het Sanef Donderdag in ʼn verklaring gesê. “Dit is onaanvaarbaar vir enige politieke party om joernaliste te intimideer en publiek aan te kondig dat hulle veiligheid nie gewaarborg is nie.”
Sanef het die Ekonomiese Vryheidsvegters gemaan om nie verslaggewers wat vir media-instansies werk wat deur die Gupta-familie besit word, te verbied om EFF-geleenthede en perskonferensies by te woon nie. Die organisasie het die party ook versoek om opnuut die reg op mediavryheid en die reg op vryheid van assosiasie te bevestig.
Sanef het gesê die EFF is geregtig op sy mening oor die eienaars, maar “moet joernaliste toelaat om hul werk te doen sonder vrees en in ʼn klimaat wat die vrye uitruil van inligting bevorder”.
Die EFF het Donderdag gesê hy het mediahuise, wat deur die Gupta-familie besit word, verbied om enige van sy geleenthede of perskonferensies by te woon, en geëis dat die familie Suid-Afrika moet verlaat.
Daar is ʼn toenemende ontevredenheid in Suid-Afrika oor die noue bande wat die Gupta-familie met pres. Jacob Zuma en ander senior staatsbeamptes het.
“Ons is moeg daarvoor om oor die Guptas te praat,” het Malema aan verslaggewers in Johannesburg gesê. “Die familie beheer hierdie land. Hulle het Suid-Afrika gekolonialiseer. Vir die Guptas gaan die nie oor media nie. Dit gaan oor propaganda. Hulle is ʼn fabriek van korrupsie, ʼn kartel en ʼn mafia. Ons kan die veiligheid van Gupta-werknemers nie by ons geleenthede waarborg nie. Ons waarsku julle vreedsaam, broers en susters.”