Pieter van Staden het Donderdag op Facebook ʼn foto van sy swaer, Chris van der Merwe (36), gedeel waarin hy gesê het dat hy sedert Woensdag soek was. Van Staden woon in Bloemfontein en Van der Merwe het in Johannesburg gewerk.
Van Staden het aan Maroela Media gesê Van der Merwe se werk het die familie Donderdagoggend geskakel om te vra of hulle weet waar hy is, want hy het nie vir werk opgedaag nie. “Dit is glad nie soos hy om net nie vir werk op te daag nie, so ons het dadelik geweet iets moet fout wees,” het Van Staden gesê.
Van der Merwe se werk het later laat weet dat hulle deur ʼn opsporingstoestel in sy werksvoertuig die motor by ʼn skrootwerf opgespoor het. Daar is vasgestel dat die motor Woensdagaand in ʼn ongeluk op die N1-Suid naby die Woodmead-afrit was toe die motor agter in ʼn stilstaande vragmotor vasgery het.
“Ons het al die hospitale en polisiestasies gekontak, maar kon niks meer uitvind nie. Uiteindelik het ons by die Sandton-polisiestasie reggekom wat ons vertel het hulle was op die ongelukstoneel en sover hulle weet was dit ʼn noodlottige ongeluk,” het Van Staden gesê. “Kort daarna het die Hillbrow-lykshuis geskakel om te sê sy liggaam is daar.”
Volgens Van Staden is hy uiters teleurgesteld met die manier waarop die ongeluk deur die owerhede hanteer is. “Hy het ʼn ID by hom gehad en al sy persoonlike goed was by die Sandton-polisiestasie. Hoekom kon hulle ons nie opspoor en ons laat weet nie? Om op hierdie manier uit te vind het dit vir ons net nog moeiliker gemaak,” het hy gesê.
Van der Merwe was ongetroud en het geen kinders gehad nie. Hy word oorleef deur sy ma, suster en swaer. “Ons wag nog vir die nadoodse ondersoek om afgehandel te word voor ons kan begrafnisreëlings tref, want ons weet nie wanneer ons sy liggaam sal kan kry nie,” het Van Staden gesê.
“Dit is nie hoe ons wou hê die soektog moes eindig nie. Ons het bly hoop ons sal hom kry.”