
Die omslag van die MRK se verslag.
Sommige politieke partye sowel as die burgerregte-organisasie AfriForum asook Agri SA verwelkom die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) se verslag oor aanvalle en moorde in landelike gebiede.
Die verslag van nagenoeg 100 bladsye kom ná afloop van die openbare verhore wat in 2014 deur die MRK gehou is oor aanvalle en moorde op plase. Dit is Donderdag in Johannesburg bekend gestel.
Die MRK het in die verslag sy kommer uitgespreek oor geweld in landelike gebiede en oor plaasmoorde.
Die verslag bevat in geheel 14 aanbevelings. Van die aanbevelings wat die MRK gemaak het is om veiligheid in landelike gebiede op sy nasionale menseregte-agenda te behou en gesprekvoering tussen die onderskeie rolspelers aan te moedig. Die MRK het ook aanbeveel dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) baie meer moet doen in die stryd teen misdaad in landelike gebiede.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het ná afloop van die bekendstelling gesê hoewel die organisasie sekere voorbehoude oor die detail van die verslag het, is die aanbevelings wat daarin deur die MRK gemaak word, konstruktief. Lees meer hier.
Roets het gesê AfriForum sal voortgaan met sy veldtog vir die prioritisering van plaasmoorde.
Kobus Breytenbach, Voorsitter van Agri SA se Landelike Veiligheidskomitee, het op sy beurt gesê die organisasie verwelkom hierdie aanbevelings, veral die aanbeveling dat ʼn spesiale subkomitee deur die gesamentlike misdaadvoorkoming-en-veiligheidsektor se prioriteitskomitee aangestel word om ʼn aksieplan te ontwikkel ten einde aandag te gee aan die aspekte wat in die verslag genoem word en om met die gemeenskap te skakel.
“Agri SA is steeds van mening dat die SAPD se kapasiteit op stasievlak uitgebrei moet word om te kan reageer op insidente in landelike gemeenskappe asook om gesamentlike misdaadvoorkomingsaksies te beplan en uit te voer ter bekamping van misdaad,” het hy gesê.
“Nou meer as ooit tevore maak die landboubedryf staat op die polisie om kriminele aktiwiteite in landelike gebiede te bekamp. Agri SA sal voortgaan om ʼn goeie werkverhouding met die polisie te handhaaf in die stryd om landelike misdaad te bestry.”
Hy het gesê Agri SA aanvaar die landelike beveiligingstrategie, gerugsteun deur die Reservistebeleid, asook die beleid oor sektorpolisiëring, as doeltreffende strategieë om landelike misdaad te bekamp.
“Vir die doeltreffende implementering daarvan moet die polisie verseker dat stasiebevelvoerders sodanige beleid en strategieë konsekwent en met erns toepas.”
Die Demokratiese Alliansie sowel as die Vryheidsfront Plus het aangedui die partye wil die verslag in die parlement laat dien.