“As ons taal nie goed genoeg is nie, is ons geld ook nie goed genoeg nie.” Dít is die mening van Ian Cameron, AfriForum Jeug se woordvoerder, nadat dit aan die lig gekom het dat minstens twee van die universiteit se fakulteite glo besluit het om af te wyk van die taalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch (US) soos deur die universiteitsraad, met instemming van die senaat, bepaal is.
Cameron het Dinsdag gesê dat studente ook volgens die Verbruikersbeskermingswet beskerm word en dus moet hulle wag om te sien of hulle die onderrig in Afrikaans ontvang wat hulle belowe is.
Hy het verder genoem dat die aanslag op Afrikaans van die begin van 2016 nie langer geduld moet word nie en dat AfriForum Jeug beplan om vandeesweek die #RedAfrikaans-veldtog bekend te stel. Dié veldtog sluit ʼn vyfpuntplan in wat onder meer behels dat Afrikaanse studente hul klasgelde tot en met Junie 2016 moet terughou.
“Die rektor van die US se infame leuens wat hy die land vol versprei oor die behoud van Afrikaans, moenie ongesiens verbygaan nie. By die Universiteit van Pretoria heers presies dieselfde situasie, met Afrikaners wat uit vergaderings gejaag word waar hul eie moedertaal bespreek word,” het Cameron gesê.
Maroela Media het Sondag berig AfriForum se regspan het ʼn aanmaning aan die uitvoerende bestuur van die US beteken. AfriForum voer aan die twee fakulteitsrade se besluite is strydig met die US se taalbeleid asook met die kontrakooreenkoms wat studente met die US gesluit het en wat op die taalbeleid berus.
Dit volg nadat die fakulteitsraad van Regsgeleerdheid op 25 Januarie onder meer besluit het:
- Engels sal die primêre onderrigtaal tydens lesings wees.
- Daar sal geleentheid vir ʼn inleiding en opsomming in Afrikaans wees.
- Studente mag vrae in Afrikaans vra wat in daardie taal beantwoord sal word.
- Daarbenewens het die fakulteitsraad van Ingenieurswese op 23 Januarie 2016 die volgende sogenaamde “visie” aanvaar:
- Voorlesings sal by verstek in Engels plaasvind met tolking na Afrikaans en slegs in parallelmedium plaasvind wanneer oorwegings soos onder meer klasgrootte dit haalbaar maak.
- Dosente word aangemoedig om bykomende leerhulpmiddels in Afrikaans én Engels beskikbaar te stel, en kernbegrippe mag aan die einde van elke periode deur dosente wat Afrikaans magtig is, herhaal word.
- Die inwerkingstelling hiervan verander die meeste oorblywende A+1-modules na E+1-modules selfs indien dit verskil van die moduleraamwerk soos uiteengesit in die 2016-jaarboek.