ʼn See van blou het Woensdag deur Johannesburg se strate beweeg toe die DA ʼn vreedsame optog ter ondersteuning van werkskepping gehou het.
Dit is nie duidelik hoeveel ondersteuners aan die optog deelgeneem het nie, maar volgens die DA se Twitter-profiel, was dit meer as 15 000 mense.
Die optog het tot ʼn stilstand gekom onder ʼn reuse banier wat die party ʼn paar weke gelede op ʼn gebou laat aanbring het. Op die banier, wat intussen deur onbekende persone geskend is, word president Jacob Zuma en die ANC blameer vir die hoë werkloosheidsyfer in die land.
Mmusi Maimane, die leier van die DA, was een van ʼn paar rolspelers wat die skare onder luide toejuiging toegespreek het. Maimane het gesê dit is noodsaaklik om iets aan werkloosheid te doen om ʼn toekoms vir Suid-Afrikaners te verseker. “Werklose Suid-Afrikaners moet weet: President Zuma en die ANC het lankal van julle vergeet,” het Maimane gesê.
“Dit is waarom ons hierdie plakkaat 20 dae gelede hier opgesit het. Op 7 Januarie het die aantal [werklose mense] op 1,84 miljoen gestaan. In die afgelope 20 dae is meer as 15 000 Suid-Afrikaners bygevoeg – dit is meer as 770 elke dag. Maar kyk wat het die ANC gedoen. Het hulle kwaad geraak oor die werkloosheid? Nee. Hulle het kwaad geraak vir ons banier. Hulle het dit rassisties genoem en dit geskend,” het Maimane gesê.
Maimane het aan die skare gesê Zuma beskerm ʼn klein groepie mense met die regte kontakte, terwyl miljoene Suid-Afrikaners na hulself moet omsien. Hy het spesifiek ook verwys na Zuma se beweerde beskerming van die Gupta-familie en SADTU-leiers. “As jy nie in die sirkel is nie, kan jy doodeenvoudig nie op die regering staatmaak vir beskerming nie. Hulle ken jou nie. Jy is ʼn ekonomiese buitestaander.”
Hy het ʼn beroep op die publiek gedoen om tydens die komende plaaslike verkiesings vir ʼn regering te stem “wat weet hoe om die ekonomie in die regte rigting te laat beweeg” en nie ʼn regering vir die binnekring is nie.
Teen Woensdagmiddag was die hutsmerk #DAforJobs een van die top 10 gewildstes op Twitter.


