Albi Modise, woordvoerder van die departement van omgewingsake, het hierdie besluit van die departement aan Maroela Media bevestig.
Die besluit kom nadat die Suid-Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut (Sanbi), die owerheid wat verantwoordelik is vir die regulering van wildhandel in Suid-Afrika, gesê het hulle is nie seker hoeveel luiperds in die land oor is nie.
Volgens die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT) is die waarneming van luiperds in die verlede swak aangeteken en word die grootte en gewoontes van luiperdbevolkings in sekere gebiede nie goed verstaan nie.
Die EWT meen hierdie faktore moet eers ondersoek word om te verseker dat trofeejag nie ʼn negatiewe impak op die langtermyn- oorlewing van luiperds in Suid-Afrika het nie. “Die EWT is al lank bekommerd oor die volhoubaarheid van Suid-Afrika se luiperdjagpraktyke, “ het die trust in ʼn verklaring gesê. “Daarom loof ons die departement omdat hy dapper genoeg is om te verseker dat die benutting van luiperds volhoubaar is.”
Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters en Wildbewaringsvereniging (SAJWV), het aan Maroela Media gesê hy het nie in beginsel ʼn probleem met die verbod nie, aangesien behoorlike navorsing oor luiperdgetalle verwelkom sal word.
“Die verbod sal ʼn groter invloed hê op professionele jagters as op die verbruikersjagters wat deur die SAJWV verteenwoordig word, aangesien professionele jagters nie meer kliënte na Suid-Afrika sal kan bring om luiperds te jag nie,” het hy gesê. “Ons verwelkom die besluit om meer navorsing oor luiperdgetalle te doen en in beginsel sal dit moontlik wees om dit binne ʼn jaar af te handel. Of al die onderskeie provinsies wel die nodige kapasiteit sal hê om dit binne ʼn jaar te doen, weet ek nie.”
ʼn Woordvoerder van die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa) het Woensdag gesê Phasa-verteenwoordigers was die middag in ʼn vergadering met die departement oor presies wat die verbod behels en sal dus eers later kommentaar kan lewer.