Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Groot teenkanting oor Kovsies-taalbeleid

$
0
0
Universiteit van die Vrystaat Foto: UV, Facebook

Universiteit van die Vrystaat Foto: UV, Facebook

Meer as 3 000 Solidariteit-lede het in ʼn aanlyn peiling aangedui dat hulle teen die beoogde hersiening van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se taalbeleid is, het die vakbond vandag gesê.

Die hersiening van Kovsies se taalbeleid het nietemin luidens onlangse mediaberigte reeds die jawoord gekry.

Dit is ten spyte daarvan dat die universiteit in ʼn onlangse koerantadvertensie alle belanghebbendes aangemoedig het om hul besware teen die hersiening aan die universiteit te rig. Volgens die advertensie sal die universiteit geselekteerde belanghebbendes nooi om op 27 Augustus aan ʼn gespreksessie rondom die hersiening van die beleid deel te neem.

Volgens Johan Kruger, adjunkhoof van Solidariteit, blyk dit dat die universiteit Afrikaans as onderrigtaal by die universiteit wil afskaf ondanks die publiek se teenkanting. “Die blote feit dat die plan om die beleid te hersien reeds die jawoord gekry het voordat die publiek se besware aangehoor is, is kommerwekkend. Solidariteit sal egter seker maak dat diegene wat meen dat Afrikaans op Kovsies behoue moet bly se stem gehoor word,” het Kruger gesê.

Solidariteit beplan om eersdaags ʼn aanbieding, wat sy lede en ander belanghebbendes se besware teen die hersiening van die beleid vervat, aan die universiteit te rig. Die vakbond sal die universiteit ook amptelik versoek om aan volgende week se gespreksessie deel te neem.

Solidariteit het verder alle belanghebbendes versoek om hul stem teen die hersiening van die taalbeleid te laat hoor deur voor of op 23 Augustus 2015 hul versoek dat die beleid onveranderd moet bly aan afrikaans@solidariteit.co.za te rig, όf om die woord “AFRIKAANS” na 34802 te SMS. Solidariteit sal daarna die versoeke konsolideer en dit by sy voorlegging aan die universiteit voeg.

Intussen het AfriForum, in antwoord op ʼn uitnodiging van die UV om kommentaar te lewer op die hersiening van die taalbeleid, gevra dat die taalaanbod aan en regte van Afrikaanssprekendes nie verskraal moet word nie.

In ʼn voorlegging wat Donderdag aan die universiteit gestuur is, noem AfriForum onder meer dat Afrikaans die tweede grootste taal en grootste hoëfunksietaal in die universiteit se voedingsarea is, teenoor Engels in die sesde plek. Daar word verder gewys op die Suid-Afrikaanse Grondwet wat die reg van studente tot onderrig in Afrikaans erken, asook die feit dat die taal al dekades lank in alle fakulteite in die Suid-Afrikaanse akademiese wêreld gebruik word, wat beteken dat daar geen argument oor die praktiese uitvoerbaarheid van Afrikaanse onderrig gevoer kan word nie.

AfriForum het kommer uitgespreek daaroor dat ʼn standaard praktyk, naamlik die gereelde hersiening van ʼn instelling se taalbeleid, misbruik kan word om Afrikaans se posisie aan die UV te ondergrawe. Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir taalkwessies, is die proses by UV reeds tot ʼn groot mate gekontamineer weens die feit dat die rektor in die openbare domein veralgemenings gemaak het oor studente se behoeftes. Dit het persepsies gevestig dat Afrikaans onwelkom op die kampus is en verdagmaking tussen studente uit verskillende gemeenskappe tot gevolg gehad. Só word skynbaar onder meer geglo dat Afrikaanse studente bevoordeel word omdat hulle soms Engelse handboeke het en nog aanvullend toeligting in Afrikaans kry ook.

AfriForum vra dat dié soort uitlatings ten sterkste teengestaan word deur die toepaslike owerheidstrukture en dat die proses neutraal, regverdig, deursigtig en volgens beste praktyke bestuur word.

As deel van die voorlegging, is ʼn verslag ingedien wat vroeër vanjaar in opdrag van AfriForum deur die internasionale taalregtekenner, prof. Fernand de Varennes, opgestel is. Dit beklemtoon studente se reg tot Afrikaanse onderrig en identifiseer beste internasionale praktyke vir die akkommodering van meer tale aan universiteite.

AfriForum stel voor dat sodanige voorbeelde ondersoek moet word; Afrikaans se posisie as onderrig- en administratiewe taal by die UV gehandhaaf word; alle vorme van taaldwang uit die hersieningsproses geweer word; en dat kanale geskep word waardeur studente en dosente met taalprobleme bygestaan kan word, of taalklagtes kan indien sonder vrees vir viktimisering.

Bailey beklemtoon dat AfriForum graag universiteite soos die UV wat meertalig onderrig aanbied, wil steun in vertoë om aanvullende subsidiëring hiervoor te bekom.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!