
Foto: Reint Dykema
Solidariteit het vier fotograwe opdrag gegee om die effek van die landwye droogte af te neem. Die foto’s word op 28 Januarie in die Atterbury-teater in Pretoria vertoon en opgeveil. Die volle opbrengs word aan die droogtefonds geskenk. Vir meer inligting oor die geleentheid lees die vorige berigte daaroor op Maroela Media.
Die onderstaande brief is van dié van ʼn boervrou wat die krisis aangrypend aan Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, beskryf het.
Beste Dirk
Ek hoop dat jy hierdie ongevraagde e-pos in ’n goeie gees sal ontvang. Dit was ná die gesprek op RSG oor droogtehulp aan kommersiële boere dat ek besluit het om aan jou te skryf.
Ek is ʼn boervrou en skryf namens ons boerdey, sonder dat my man daarvan weet. Eintlik is dit vir my moeilik want ons is van kleins af geleer om nie om hulp te vra nie, maar om self die mas op te kom.
Ons is konsensieuse, hardwerkende en ek glo oordeelkundige mense wat konserwatief leef en nog nooit onverskillig met geld te werk gegaan het nie. Ten spyte daarvan bevind ons ons, soos baie ander boere glo ek, in ’n moeilike finansiële situasie.
Ons het verlede jaar ʼn swak mielieoes gehad. Ons het oorlaatskuld oorgehou nadat ons die oes gelewer het. Vanjaar hoef ek nie aan jou te beskryf nie. Ons voer al maande lank ons beeste, skape en boerbokke asook melkkoeie en koop elke bek voer wat hulle eet omdat daar geen sprake van weiding meer is nie. Ons koop mieliereste, lusern, koringstrooi, grondboonreste, eintlik enige voer en ruvoer wat ons in die hande kan kry. Ons koop daagliks die noodsaaklike en peperduur proteïen- en mineraalbyvoegings wat noodwendig ingemeng moet word. Elke week met die hoop dat dit die laaste week sal wees. Ons het geen inkomste en die uitgawestroom is groter as gewoonlik. Op dié manier, omdat die droogte aanhou en aanhou, het ons al by elke limiet verbybeweeg.
Ons hamermeulens loop van vroeg tot laat, in die voerstoor meng ons van sewe soggens tot sewe saans, die voerkarre loop op en af na die voersilo’s, voerbakke en lekbakke. Die beeste kom aangehardloop na die bakkie as hulle die lusern ruik. Al ons pogings ten spyt wys die beeste se ribbebene nou.
As boervrou is ek ʼn bietjie verward. Daar is meer as een organisasie wat droogtehulp aanbied. Ek het al die nodige vorms ingevul soos dit tot my kennis gekom het. Ek sien oral in die elektroniese media hoe vragte voer aangery word, maar weet nie hoe om dit te bewerkstellig nie? Tot dusver het ons sakkies voerpille van Voermol vir ons skape gekry, waarvoor ons dankbaar is, al is dit net ’n gebaar. Ek verstaan eintlik nie hoe groot ʼn mens se ellende moet wees voor jy hulp mag vra en wel ontvang nie? Ons kan darem nog kos koop, maar alles wat ons doen is op ʼn oortrokke rekening. Nugter weet hoe ons dit gaan uitwis nie want ons plant nie hierdie seisoen mielies nie. Ons kan nie nóg ’n insetmislukking hanteer nie. Dit sal die plaas insluk. Intussen word ons kapitale en rentelas net al groter.
Ek het dit egter vir myself só uitgemaak. Almal kry ewe swaar. Kleinboer of grootboer. Almal is gelyk in die stryd.
Om dié rede skryf ek maar die brief. As ons in ’n ry moet staan om hulp te kry, plaas ons ook asseblief in die ry. Maar as daar iemand is wat nie kos het om te eet nie, sit hulle voor ons in die ry.
Ons sal enige hulp waardeer wat ons kooplas ligter kan maak: voersaad, kunsmis, lusern, koringstrooi, verpilde produkte of voerkonsentrate.
Dit het hier gereën waarvoor ons dankbaar is, maar dit maak strepe. Van 30 mm tot geen reën in sommige dele. Die ergste is dat dit lyk of die gras en bome traag is om uit te loop. Ons weet nie of dit tot in die wortel dood is nie.
Die winter lê voor en soos dit nou lyk sal ons deur die winter moet voer, ten minste die beeste.
Dankie dat iemand luister. Dra asseblief my dank oor aan elke mens wat ’n bydrae lewer om die droogte en die gevolge daarvan te verlig.
Ek voel oneindig jammer vir my eie man en vir elke boer. Hulle hou hulle sterk.
Groete
Boervrou