Die vakbond het in ʼn verklaring gesê as daar nie ʼn aanvaarbare ooreenkoms met werknemers aangegaan word nie, sal die werkers voortgaan met die staking soos dit wetlik hul reg is. “Numsa doen ʼn beroep vir soortgelyke veldtogte vanaf die publiek en ander vorme van betogingsaksie. Die nasionale raad vir ekonomiese ontwikkeling en arbeid (Nedlac) sal in kennis gestel word van die presiese aard van die betogingsaksie en die datums wanneer dit sal plaasvind,” lui die verklaring.
Cosatu het ook Donderdag aangekondig dat sy lede ʼn reuse-staking beplan teen die Wysigingswet op belastingadministrasie wat pres. Jacob Zuma onlangs onderteken het. Die vakbond eis dat die nuwe wet herroep word voordat dit op 1 Maart in werking tree.
Cosatu meen die wet, wat werknemers verhoed om hul pensioene in kontant te laat uitbetaal wanneer hulle bedank, weerhou werkers van hul swaarverdiende geld.
Volgens Numsa voorsien ʼn aftreefonds werkers nie van ʼn genoegsame pensioen wanneer hulle aftree nie. “Dit is hoekom werkers al vir jare gesê het hulle verkies ʼn voorsorgfonds wat hulle die keuse gee om hul spaargeld te laat uitbetaal of dit as ʼn pensioen aan te wend. Dit is ver verwyderd van die verpligte stelsel wat die regering nou wil instel.”
Lees meer oor die wysigings aan die Pensioenwet op Maroela Media.