
President Jacob Zuma addressing Team SA on the margins of the WEF 2016 Annual Meeting in Davos, Switzerland. 21/01/2016, Elmond Jiyane, GCIS
Tot kort voor die vertrek van die afvaardiging van 80 onder die leiding van pres. Jacob Zuma na Davos, is nuusgewys nie baie rojaal oor die WEF-gebeure in Switserland verslag gelewer nie. Maar die asem is opgehou … so sterk soos die Suid-Afrikaanse afvaardiging ook al mag wees, die kans op ’n verleentheid sou altyd daar wees met Zuma aan die stuur.
Toe kom die CNBC-paneelbespreking met Afrikaleiers. Zuma is tot kort voor die verrigtinge as die ster-paneellid voorgehou, maar onttrek hom en bied aan dat die minister van finansies, Pravin Gordhan, in sy plek deelneem. Enige regdenkende mens sou besef dat Gordhan ’n veel beter keuse sou wees.
Die premier van Ethiopië, Hallemariam Desalegn, dreig om te onttrek as die statuur van die paneel verlaag word. Paul Kagame, president van Rwanda, is toe in Zuma se plek in die paneel opgeneem.
Wat het regtig gebeur? Die presidensie ontken Zuma was, soos die media dit verkondig, ’n “no show.” Hy het glo al ’n week gelede aangedui dat hy nie “beskikbaar” is nie (hy het bilaterale gesprekke met die Sweedse premier gevoer), en dat Gordhan in sy plek moet gaan. Dit lyk egter of die Sweedse premier as dieselfde soort vyeblaar gebruik is as dat oudminister Nene gepos is om eendag die hoof van die Suid-Afrikaanse tak van die Brics-bank te wees.
Met Zuma is dit moeilik om agter die kap van werklike feite te kom. Was daar druk vanuit Suid-Afrika dat hy moes onttrek om eerder een met kennis van die ekonomie op die paneel te hê? Of het Zuma self kleinkoppie getrek oor die moontlikheid dat hy vrae sou moes beantwoord oor van sy onlangse verregaande uitsprake, soos dat die ANC ’n kommunistiese, sosialistiese staat nastreef? Of was hy bang dat hy deur mede-Afrikaleiers intellektueel oordonder sou word, en in die besonder die visepresident van Nigerië, Yemi Osinbako? Osinbako het ’n sterk indruk gemaak terwyl hy uiters moeilike vrae, soos die impak van die dalende olieprys op Nigerië se ekonomie, beantwoord het.
Ongeag wat agter Zuma se onttrekking skuil, die gevolge is nadelig vir Suid-Afrika.
Die probleem is egter ten eerste dat daar iewers besluit is dat Zuma, ten spyte van onlangse blapse soos veral die Nene-debakel, die “geskikte” persoon is om die Suid-Afrikaanse afvaardiging te lei. Suid-Afrika sou opsigtelik veel beter gevaar het deur soos Nigerië te maak en die adjunkpresident, Cyril Ramaphosa, “voor te stoot”.
Ramaphosa sou ’n veel geskikter lid van die paneelbespreking gewees het as Zuma.
Maar iewers binne die ANC is besluit dat Davos die ideale geleentheid sou wees om die strategie om Zuma presidensieel te laat voorkom, ’n hupstoot te gee. Die SAUK TV, as His Master’s Voice, sou vir die res sorg. Kyk maar na die nuusbulletins wat in swart tale gebeeldsend word.
Want onthou, lojaliteit aan die ANC is belangriker as lojaliteit aan die land, aldus Zuma en ge-eggo deur die ANC. As Zuma met ’n versterkte presidensiële beeld uit Davos terugkeer, was die peperduur sending geslaag. Enige veronderstelde dividende soos verhoogde buitelandse beleggings is bloot ’n bonus.
Zuma se onttrekking aan die paneelbespreking is egter belangrik. As ’n mens net kon weet of hy self besluit het om te onttrek en of druk op hom uitgeoefen is om te onttrek. Het hy self onttrek, kan dit ’n aanduiding wees dat hy self begin twyfel dat hy “deur ’n wonderwerk” so ’n watwonderse president is, waar kritiek op hom bloot is oor sy gebrekkige skoolopleiding. As hy aan sy eie vermoëns begin twyfel, kan dit wees dat hy meer nougeset sal bly by die raad waarmee kundiges die presidensie bedien. Sy skynbare aspirasies vir ’n derde termyn as ANC-president, en om sodoende ’n marionetteregering na sy pype te laat dans, kan dan vervaag.
Is Zuma egter weens druk vanuit die ANC gedwing om te onttrek, is daar eweneens veel te lees. Ten eerste sou dit bevestig dat daar mense in die ANC is wat nie net dapper genoeg is nie, maar die gesag het om Zuma van besluit te laat verander, soos wat klaarblyklik met die Nene-geval gebeur het. Ontleders meen Zuma se knieë het begin wankel toe vertrouelinge wat hy self in Luthuli-huis ontplooi het, ook die rug teen sy onkundige vrybekkigheid en irrasionele optredes begin styf maak het.
Tensy ’n moontlike opstand teen Zuma binnekort duideliker gestalte kry, sal gewone Suid-Afrikaners nie weet presies wat agter die skerms gebrou word nie. Die moontlikheid word nietemin groter dat Zuma in die nie te verre toekoms nie “weens swak gesondheid” gaan aftree.