Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, het gesê volgens die inligting tot die polisie se beskikking het die verdagte se voormalige vriendin ʼn beskermingsbevel teen hom aangevra wat verlede week aan hom beteken is.
Die verdagte is glo vroeg Woensdagoggend na ʼn plaas buite Lydenburg waar hy sy voormalige vriendin se ma, wat op pad werk toe was, voorgekeer het. “Die verdagte het glo die 51-jarige vrou aangeval, gewurg en met ’n piksteel geslaan tot sy dood is.”
Volgens Mohlala het die verdagte glo hierna die vrou se selfoon gevat en sy voormalige vriendin gebel. “Hy het glo vir haar gesê dat hy haar ma vermoor het en dat sy volgende aan die beurt is.”
Die polisie is na die toneel ontbied waar die ma se liggaam langs die pad gevind is. Die verdagte is kort hierna in hegtenis geneem terwyl hy in die rigting van Lydenburg geryloop het. Die verdagte word van moord aangekla.