
President Jacob Zuma spreek die Suid-Afrikaanse afvaardiging toe by WEF in Davos, Switserland (21/01/2016) Foto: Elmond Jiyane, GCIS
Pres. Jacob Zuma het tydens die jaarlikse Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) in Davos, Switserland, gesê Suid-Afrika is oop vir besigheid en die land wil graag sy voetspoor van sy maatskappye dwarsoor die Afrika-kontinent en wêreldwyd uitbrei.
“Ons is hier om aan beleggers te sê dat Suid-Afrika die plek is waar hulle moet wees, en ons het ʼn goeie rede om dit te sê,” het Zuma aan die Suid-Afrikaanse afvaardiging, wat bestaan uit lede van die kabinet, sakeleiers en verteenwoordigers van die WEF, gesê. “Ons het ʼn relatief gediversifiseerde ekonomiese basis. Ons het ʼn ekonomie wat wêreldgehalte sakedienste bied op terreine soos informasie- en kommunikasietegnologie, vervoer en logistiek, en finansiële en professionele dienste.”
Zuma het gesê Suid-Afrika word ʼn voorloper vir nuwe sektore van internasionale direkte beleggings soos die groen ekonomie, olie en gas en oseaan-ekonomie sektore soos skeepsbou.
Die president het dit benadruk dat Suid-Afrika miljarde rand belê om sy elektrisiteitsinfrastruktuur uit te brei, aangesien kragbeperkings die groeikrag van die ekonomie beperk. “Ons diversifiseer ons energiemengsel en het beduidende privaat beleggings in skoon energie deur die Hernubare Onafhanklike Kragverskaffingsprogram. Dit is ʼn vlagskipprogram vir ons,” het hy gesê.
Zuma het bygevoeg die regering neem met erns kennis van versoeke dat burokrasie verminder moet word wanneer beleggers wil sake doen in Suid-Afrika. “Die regering sal in reaksie hierop in die loop van hierdie jaar ʼn beleggingsveldtog, InvestSA, van stapel stuur.”
Lees alle vorige berigte oor die WEF op Maroela Media.