
Argieffoto
Die klag wat die VF Plus in November verlede jaar by die Verbruikerskommissie ingedien het oor Sanral se toerusting en wat daarop neerkom dat alle e-tolrekeninge onwettig is, word ondersoek en die kommissie is tans in gesprek met Sanral oor die aangeleentheid.
“Die klag is daarop gegrond dat Sanral se toerusting wat by die Gautengse e-tolstelsel gebruik word, nie aan die wetlike vereistes en voorskrifte nie voldoen nie, en alle gelde wat tot nou toe ingevorder is of ingevorder gaan word, is of word daarom op ʼn onwettige wyse gedoen,” het Anton Alberts, woordvoerder van die VF Plus, gesê. “Alle toerusting wat vir die besondere doel aangewend word, moet voldoen aan die vereistes van die Wetlike Metrologiewet (Wet 9 van 2014) voordat geld van motoriste ingevorder mag word.”
Volgens Alberts het die Verbruikerskommissie aan hom bevestig dat die saak ondersoek word en die kommissie wag nou op die reaksie van Sanral oor die klag.
“Die proses is aan die gang. Ons mening is dat die saak baie sterk is in terme van die wet se duidelike voorskrifte oor die sertifisering van tolinstrumente. Dit is ʼn misdryf indien dit nie gedoen word nie en ook indien advertensies uitgereik word in dié verband,” het hy bygevoeg. “Daar was berigte in die media dat die saak vir mediasie verwys is, maar die Verbruikerskommissie het dit ontken en bevestig dat die saak inderdaad ondersoek word.”
Die VF Plus gaan intussen ook die aangeleentheid opneem met die Gesagsliggaam vir Reklamestandaarde (GRS) om te verhinder dat enige verdere advertensies oor e-tol in enige vorm geplaas word.
Die party het in November gesê alle gelde wat tot nou toe ingevorder is of ingevorder gaan word, is of word op ʼn onwettige wyse gedoen. Alberts het in daardie stadium gesê hy het op navraag by die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS) bevestiging gekry dat die e-tol-toerusting nooit gesertifiseer is soos die wet vereis nie. Die NRVS het ook bevestig dat daar nooit aansoek gedoen is om sertifisering nie.
“Dit is van die grootste belang dat hierdie saak, wat tienduisende padgebruikers en die land se totale ekonomie direk raak, so gou moontlik opgeklaar word en dat dringende regstellende stappe gedoen word.”