
President Jacob Zuma tydens die WEF in Davos, Switzerland. (21 Januarie 2016) Foto: Elmond Jiyane, GCIS
Die presidensie het Donderdag mediaberigte veroordeel wat beweer dat pres. Jacob Zuma nie vir ʼn paneelbespreking by vanjaar se Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) in Davos opgedaag het nie.
ʼn Aantal mediahuise het berig dat WEF-organiseerders hulle ingelig het dat Zuma ter elfder ure gekanselleer het, en die Africa Next Challenge-debat sonder ʼn Suid-Afrikaanse verteenwoordiger gelaat het.
Volgens die presidensie is paneelorganiseerders egter verlede week al in kennis gestel dat die president nie die geleentheid kan bywoon nie, weens ʼn botsing in sy kalender.
Bongani Majola, woordvoerder van die presidensie, het spesifiek verwys na Alec Hogg van Biznews wat glo gepoog het om ʼn “negatiewe lig” oor ʼn “baie suksesvolle besoek” van die SA-span te werp.
“Ons verwerp die leuens wat deur mnr. Hogg versprei word, wat klaarblyklik toegewyd is om die publiek oor die saak te mislei,” het Majola gesê.
Volgens Majola vaar die span in Davos, onder leiding van pres. Zuma, baie goed en word positief ontvang. “Die boodskap dat Suid-Afrika oop is vir besigheid word in alle sessies deur die president, ministers en sakeleiers gekommunikeer.”
Zuma panel no-show, Gordhan rejected as SA stock falls ever lower in Davos – https://t.co/2d9WDjSU1U #WEF16
— Alec Hogg (@alechogg) January 21, 2016