ʼn Vrou wat aan epilepsie ly is glo by die Suidrand-hospitaal in Johannesburg verkrag terwyl sy gewag het om daar opgeneem te word.
Jack Bloom, gesondheidswoordvoerder vir die Demokratiese Alliansie (DA) in Gauteng, het Donderdag gesê hy het ʼn verslag ontvang waarin die vrou beweer sy is een aand deur ʼn psigiatriese pasiënt in ʼn wagkamer verkrag terwyl sy geslaap het.
“Die psigiatriese pasiënt is vroeër die middag ontslaan en het vir ʼn familielid gewag om hom by die hospitaal op te laai,” het Bloom gesê.
Hy het gesê daar is ʼn drastiese toename in psigiatriese pasiënte by die hospitaal vandat die Chris Hani Baragwanath-hospitaal sy ongevalle-eenheid tydelik gesluit het vir opknappingswerk. Pasiënte met skisofrenie, bipolêre versteuring, selfmoordneigings en dwelmverslawing word gewoonlik vir 72 uur opgeneem vir observasie en behandeling.
“Psigiatriese pasiënte moet apart van gewone pasiënte gehou word, in ʼn toegewyde saal met meer sekuriteit,” het hy gesê.
Hy het gesê daar is nog geen aanduiding of iemand weens die voorval in hegtenis geneem is nie.
Bloom het sy kommer oor die voorval uitgespreek en aangedring dat ʼn volledige ondersoek van stapel gestuur word.
Bestuur by die hospitaal kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.