Maj. Dimakatso Mooi, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê daar word vermoed dat die kinders, almal tussen die ouderdomme van drie en sewe, versmoor het.
“Die kisvrieskas staan agter die huis in die erf en word nie gebruik nie. Daar word vermoed dat die kinders in die vrieskas gespeel het toe dit toegeslaan en per ongeluk gesluit het,” het sy gesê.
“Dit is nie duidelik hoe lank die kinders in die vrieskas was nie, maar die ouma het laatmiddag na hulle begin soek. Toe sy hulle nêrens kon kry nie, het sy daaraan gedink om in die vrieskas te kyk. Daar het sy op hulle lyke afgekom.”
Volgens Mooi het twee van die kinders by die ouma gebly en die ander drie het daar gekuier. “Dit is nie in hierdie stadium duidelik waar die kinders se ouers was ten tyde van die voorval nie,” het sy gesê.
ʼn Geregtelike doodsondersoek is geopen.