Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Krokodil ruk Limpopo-vrou in rivier in: ‘Dit was soos iets uit ʼn fliek’

$
0
0
Kelly Trauernicht in die hospitaal. Foto: Verskaf

Kelly Trauernicht in die hospitaal. Foto: Verskaf

ʼn Vrou van Phalaborwa in Limpopo is ernstig beseer nadat ʼn krokodil haar Sondag gegryp het terwyl sy van die Ga-Selati rivierbrug visgevang het.

Kelly Trauernicht (32) sterk tans in ʼn hospitaal in Polokwane aan nadat haar longe en lewer deur die krokodil se tande beseer is. Sy het ook groot bytwonde aan haar arms en bors en haar ribbes is gebreek.

Dawie, Kelly se man, het aan Maroela Media vertel van die vreesaanjaende oomblik toe die krokodil sy vrou gegryp en met haar onder die water in verdwyn het. “Ons het saam met ons 12-jarige seun gaan visvang en soos baie kere vantevore onder die brug op die betonplatforms gesit,” het hy gesê.

“Ons het skielik ʼn byt gehad wat die lyn al verder in die water in getrek het. My vrou het vorentoe geleun om die dobber met ʼn lang vispen af te kap. Die volgende oomblik het die krokodil soos blits uit die water gespring en haar gegryp.”

Kelly word van die brug af gedra. Foto: Verskaf

Kelly word van die brug af gedra. Foto: Verskaf

Dawie vertel hy het die krokodil met al sy mag op sy kop geslaan en probeer om Kelly uit sy kake te kry, maar die krokodil het gedraai en haar onder die water ingetrek. Oomblikke later het die krokodil weer met Kelly bo die water verskyn en sy het verbete probeer om terug te baklei.

Drie van die plaaslike inwoners, wat gesien het wat gebeur, het nader gehardloop en met knopkieries en klippe op die krokodil toegesak. “Hulle het hom met die klippe bestook, geslaan en ʼn groot stomp tussen haar en die krokodil ingedruk totdat hy haar gelos het. Ons het haar uit die water tot op die platform getrek, waar ons vir die paramedici gewag het,” het hy gesê.

Jaco Gericke, ʼn diensverskaffer vir Maponya 911 ambulansdienste, het gesê Kelly het diep wonde aan haar regterarm gehad en groot tandmerke oor haar bors. “Jy kon duidelik sien hoe die krokodil haar oor die rug en bors gegryp het,” het hy gesê.

Volgens Gericke weet die plaaslike inwoners in die gebied al dat die krokodille in die rivier ʼn gevaar inhou en sit hulle altyd ver van die oewer af wanneer hulle visvang. “Ek dink dit is ook waarom hulle so vinnig opgetree het. Hulle weet die krokodille in daardie rivier is baie gevaarlik.”

Dawie het gesê hy is steeds baie geskok na die voorval. “Dit was soos iets uit ʼn fliek uit; beslis nie ʼn mooi gesig nie. Sy is nou in die chirurgiese saal waar sy aansterk. Dit was Jesus wat Sy hand oor my vrou, en die drie mans wat haar gered het, gehou het. Alle eer gaan aan God. As dit nie vir Sy genade was nie, was my vrou nie vandag hier nie.”


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!