
Argieffoto Foto: earthtimes.org
Graan SA het Vrydag gesê Suid-Afrika sal moontlik weens die droogte tussen vyf en ses miljoen ton mielies moet invoer, maar gewaarsku dat die land moontlik nie sulke hoeveelhede sal kan hanteer nie.
ʼn Spesiale mielieforumvergadering wat op die droogte fokus het Vrydag plaasgevind en betrokke belanghebbendes het dit bygewoon, het Graan SA gesê.
Die departement van landbou, bosbou en visserye, deur die departement van samewerkende regering, het reeds ʼn versoek vir bykomende fondse by die nasionale tesourie ingedien om boere te help wat deur die droogte geteister word.
“Van ʼn voedselsekerheidsperspektief het verslae aangedui dat die land se infrastruktuur dalk nie die volume mielie-invoere kan hanteer wat vereis gaan word indien die droogte, wat deur die El Niño-weerspatroon vererger word, die plaaslike oes verder verwoes nie,” het Graan SA gesê.
Indien Suid-Afrika se geraamde tekortkoming met die verwagte streeksbehoeftes van Zimbabwe, Lesotho, Namibië, Botswana en Swaziland gekombineer word, sal die invoerbehoefte, insluitend ander grane soos soja en koring, nagenoeg 10.9 miljoen ton wees.
Graan SA het gesê die regering en die bedryf het kennis geneem van die besware oor die invoere en sal aangespreek word. Die organisasie het bygevoeg die bedryf en die regering het hulself daartoe verbind om saam te werk om beter en doeltreffende droogteverligting te bied.