
Argieffoto (Foto: Stevepb, Pixabay)
Francois Smit, uitvoerende hoof van Solidariteit Finansiële Dienste, het gesê die Wysigingswet op Belastingadministrasie, wat onlangs deur pres. Jacob Zuma onderteken is, is meestal positief.
“Die feit dat voorsorgfondse voortaan by aftrede dieselfde as pensioenfondse en uittreeannuïteite hanteer gaan word, is ʼn baie goeie verandering,” het Smit aan Maroela Media gesê.
Maroela Media het vroeër berig die vakbondfederasie Cosatu het Woensdag in ʼn verklaring teen president Jacob Zuma uitgevaar nadat hy die wysigingswet onderteken het.
“Vir Cosatu om bekommerd te wees oor ʼn meer omvattende maatskaplike stelsel is nie ʼn oplossing nie,” het Smit bygevoeg. “Suid-Afrikaners sukkel oor die algemeen om hul geld doeltreffend te bestuur, en eerder as om in opstand te kom teen positiewe veranderinge in die hantering van aftreegeld, behoort Cosatu seminare aan te bied wat hul lede skool hoe om met geld te werk.”
Smit het verduidelik die rondgaande syfer wat te doen het met hoeveel huishoudings spaar, is minder as 0.5% van die bruto binnelandse produk per jaar, wat een van die laagste spaarkoerse ter wêreld is. “Dit kan veroorsaak dat die mense wat in die ry kom staan vir staatstoelae ná aftrede, al hoe langer gaan word.”
Smit het dit benadruk dat daar nog geen definitiewe besluite van die tesourie rondom die bewaring van voordele geneem is wanneer ʼn persoon bedank en van werkgewer verander nie. “Dit is grootliks oor hierdie tweede been van die hervorming waaroor die meeste gerugte die ronde doen en waaroor onnodige spoke opgejaag word,” het hy verduidelik. “Só verandering in die wet, wat mense sal verplig om te bewaar, sal ook ʼn positiewe verwikkeling wees, op voorwaarde dat elke individu die keuse mag uitoefen waar hy/sy die fondse wil bewaar binne die goedgekeurde omgewing wat reeds daarvoor bestaan.”
Volgens Smit word mense wat op 1 Maart 2016 reeds 55 is, glad nie deur die veranderinge geraak wat op 1 Maart in werking tree nie, en is alle fondse wat tot en met 1 Maart 2016 in voorsorg fondse was, ook vir lede wat jonger as 55 jaar is, uitgesluit van die veranderinge wat in werking tree. “Daar is geen rede vir mense om hoegenaamd op hol te gaan en te dink dat hulle enige voordele gaan verloor met die wysigings nie.”
Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, het aan Maroela Media gesê as hy noodgedwonge sy mening oor die nuwe wetsontwerp moes uitspreek, sal hy sê dit is ʼn goeie ding, omdat dit onverantwoordelike mense sal help om te spaar. Lees meer.